Noodgevalle by hospitale halveer byna weens drankverbod

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Sommige hospitale in Gauteng het byna die helfte minder mediese noodgevalle opgeteken gedurende die maande wat die verbod op alkohol ingestel was, vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar toe alkohol vrylik beskikbaar was.

Daar blyk dus tóg ʼn direkte verband tussen die aantal mediese noodgevalle en die verbruik van alkohol te wees, wys Jacob Mamabolo, waarnemende LUR van gesondheid in Gauteng, nou daarop.

Volgens Mamabolo het die departement van gesondheid in Gauteng statistieke rakende hospitaaltoelating vir noodgevalle gedurende April, Mei en Julie vanjaar met statistieke van dié maande verlede jaar vergelyk. Die alkoholverbod was grotendeels in dié tyd van krag.

Die statistieke toon dat daar in dié tyd in staatshospitale aansienlik minder opnames in ongevalle-eenhede was vergeleke met verlede jaar. In sommige gevalle het hospitale amper die helfte van noodgevalle hanteer teenoor verlede jaar. “Dit kan toegeskryf word aan die algehele landwye afsondering en die verbod op die verkoop van alkohol,” het die LUR gesê.

Die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg het gedurende April en Mei vanjaar 2 797 noodgevalle hanteer. Dit is aansienlik minder as die 5 163 noodgevalle wat dié hospitaal gedurende dié tydperk verlede jaar hanteer het.

Die Tembisa- tersiêre hospitaal in Pretoria het om die beurt 5 540 noodgevalle gedurende April en Mei vanjaar hanteer teenoor die 8 803 noodgevalle gedurende dieselfde tydperk in 2019.

Die Dr. George Mukhari-hospitaal in Pretoria het ʼn noemenswaardige verskil van 4 614 noodgevalle gedurende April en Mei in 2020 aangeteken teenoor die 7 583 noodgevalle in die voorafgaande jaar.

Luidens die statistieke het die aantal opnames by Gautengse hospitale se ongevalle-eenhede in Junie toegeneem toe die verbod op alkohol aanvanklik opgehef is, maar weer in Julie afgeneem toe die verbod heringestel is.

“Die verband tussen alkoholverbruik en die aantal noodgevalle by openbare hospitale is onmiskenbaar. Dit [die gebruik van alkohol] plaas die gesondheidstelsel onder druk,” het Mamabolo gesê.

Data rakende noodgevalle sedert die inwerkingtreding van vlak 2 van die afsonderingstydperk word nog versamel. Die koop en verkoop van alkohol word gedurende dié vlak weer toegelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Stefan ·

Kan dit waar wees, ek ken ‘n ‘stewige’ drinker wat daarop roem dat 15 biere hom niks doen nie, al hierdie drankwette is nie vir hom nie!

Chantel ·

Hulle kan strenger by die hospitale ook wees. Laat die wat hulle nie kan gedra nie beboet word sou hy in die hospitaal beland. Nou moet almal gestraf word wat hulle self wel kan gedra

lollapot ·

Ek stem saam, daar moenie ‘n ‘gratis’ hospitalisasie of medikasie voordeel wees vir ‘n dronk rampokker nie!

Phillip ·

Ja behandel hulle en kla hulle dan strafregtelik aan. Hulle sal dan meer verantwoordelik optree want sal bang wees. Moenie almal onder dieselfde kam skeer nie.

Kokerboom ·

Verantwoordelike drankverbruik bly ‘n tameletjie. Opvoeding bly ‘n oplossing. Die sosio-ekonomiese krisies in land dra egter grootliks by. Chantel se voorstel is een moontlike oplossing.

Misky ·

Hoekom moet almal gestraf word omdat n sekere “groep” nie weet hoe om hulle te gedra en matigheid voor oë te hou nie? Nee wat, ek drink nie tee of creme soda as ek braai nie dankie

Niklaas ·

Daar is werklik geen oplossing as daar nie behoorlike strawwe vir dronk bestuur is nie. En natuurlik moet dit op almal van toepassing wees, nie kwytskelding t. o. v. ‘n sekere deel van die samelewing nie. Laat alle bestuurders onder dieselfde kam geskeer word

Scalla ·

Neem hul ook in ag dat daar baie minder verkeer op paaie was!

johan ·

Sit die alkohol verwante probleme op die ANC se tab want ons is mos bandiete,ons sal beweeg,koop,rook en drink wanneer julle ANC so besluit nou is daar n vergryping want julle kan more weer julle besluit verander

koos10 ·

Snaaks dat drank heeltyd bespreek word, maar nie ‘n woord oor die mense wat tuis moes bly en die nagklok reël nie. Wat was die getalle voor die inperking? Dit sal mos nou ‘n vergelyking wees. Logika werk mos nie as jy 30% vir wiskunde nodig het nie.

twaalfboor ·

Met ANC statistiek kan mens seker ook bewys dat Michael Jackson wit was.

Carina ·

En gaan kyk maar watter mense beland in ongevalle a.g.v. drank misbruik. Dis nie die mense wat ‘n glas wyn of ‘n bierjie saam met sy ete by die restaurant geniet nie. Ook nie die mense wat na wyn plase ry om te gaan wyn proe of aankoop nie. Julle kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie. En dit gaan ook nie help daar word beperkings op aankope geplaas nie. Weereens word die meeste drank wat tot ongevalle ly meestal by shibeens aangekoop by die kiste vol. En die wat wel by drankwinkels koop gaan net eenvoudig na meer as een winkel tot hy het wat hy gesoek het.

Aai ·

Seker sou die kinders nie so gesuip het kom grootmense gedra julle en drink verantwoordelik.

netekalleen ·

En daar doen n whatsapp/sms die rondte dat die pres vanaand 8 uur praat en drank verkope onmiddelik opgeskort word. Of dit waar is of nie weet ek nie maar in my area is dit skielik soos n bye nes soos almal tops toe jaag

Johan ·

Ja..sien hier ook lang rye mense wat opgaar. So moeg v die twak, los ons nou uit man….

Hennerik ·

Jaaaa, brandstofverkope het ook ‘n dip gevat. Het dit ‘n korrelasie met drank? Die mense moet tog ‘n bietjie verder dink, of sê waar ek die spoor byster is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.