‘Noodkragprogram het misluk en moet beëindig word’

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energiesake. (Foto: Twitter)

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, se risiko-mitigasie- onafhanklike kragverkrygingsprogram (RMIPPPP), oftewel noodkragprogram, is vir die soveelste keer vertraag en moet beëindig word.

Kevin Mileham, DA-lid van die portefeuljekomitee oor minerale bronne en energie, meen die talle vertragings is in wese twee vermorste jare deur Mantashe wat Suid-Afrika vir ʼn lang tydperk in ʼn elektrisiteitskrisis vasgevang sal hou. “Onafhanklike ontleders skat indien Suid-Afrika nuwe son- of windenergieprojekte gedurende die RMIPPPP-tydperk nagestreef het, sou hierdie projekte nou gereed gewees het vir ingebruikneming.”

Dit is in dié week onthul dat die noodkragprogram weer vertraag is weens “uitstaande sake en voorwaardes met Eskom”. Dit is die derde uitstelfase sedert die laaste sperdatumverlenging in Januarie 2022. Geen nuwe spertyd is bekend gemaak nie.

Mileham het gesê Mantashe moet die onmiskenbare werklikheid erken en trotseer dat sy departement ʼn administratiewe gemors van die RMIPPPP gemaak het en dit nie vir ewig kan uitstel nie.

“Mantashe en sy departement blyk nie te verstaan dat Suid-Afrika tans deur ʼn ekonomies vernietigende energiekrisis gaan en ʼn dringende behoefte het aan onmiddellik werkbare oplossings nie.

“Dit was van die begin af duidelik dat die kostestrukture van sommige bieërs, soos Karpowership, onbekostigbaar was. Tog het Mantashe verkies om sy kop in die sand te steek en tot elke prys hierdie gediskrediteerde ooreenkoms te probeer afdwing.”

Een van die maatskappy Karpowership se kragskepe. (Foto: Karpowership)

Karpowership, wat ʼn vloot kragskepe besit en bedryf, is een van die voorkeurbieërs vir die noodverkryging van 2 000 MW krag. Karpowership was suksesvol met sy bod vir projekte by die Richardsbaai-, Saldanhabaai- en Koega-hawe. Mantashe het in Maart verlede jaar met die bekendmaking van die voorkeurbieërs gesê die projekte moet teen Augustus 2022 elektrisiteit aan die kragnetwerk verskaf.

Altesaam 25 groenkragprojekte is ook in Oktober goedgekeur om nagenoeg 2 600 MW krag op te wek en tot die nasionale kragnetwerk te voeg. Dit behels windkrag van sowat 1 600 MW en sonkrag van sowat 1 000 MW.

“Hernubare energiebronne moet ʼn sleutelbron van voorsiening vir Suid-Afrika se toekomstige energiebehoeftes wees omdat dit goedkoper per kWh is as wat Eskom produseer en dit baie vinniger aanlyn gebring kan word as fossielgebaseerde kragsentrales,” meen Mileham. “Die keuse is eenvoudig, Mantashe moet die mislukte noodkragprogram beëindig en hernubare energiebronne prioritiseer. Die DA herhaal sy oproep vir ʼn omvattende parlementêre ondersoek na hierdie ondeurdagte en erg wanbestuurde program.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nie Verbaas ·

Nog n dooie vis in die see. Die kader het geen begrip van die woord “nood” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.