Noodlanding ná voëls vliegtuig tref

Argieffoto Foto: airliners.net

Argieffoto Foto: airliners.net

ʼn Boeing 747 van Cathay Pacific Airways onderweg na Hong Kong moes Sondag ʼn noodlanding by OR Tambo Internasionale Lughawe maak nadat voëls op die vliegtuig toegesak het.

“ʼn Swerm voëls het op die vliegtuig toegesak net nadat dit opgestyg het,” het Sharon Chen, woordvoerder van Cathay Pacific in Suid-Afrika, in ʼn verklaring gesê. Die vliegtuig het om 12:41 opgestyg en net voor 14:00 weer geland.

“Die vlieënier het besluit om na die lughawe terug te keer, maar moes eers van ʼn hoeveelheid brandstof ontslae raak om die geskikte landingsgewig te bereik,” het Chen bygevoeg. “Alle passasiers en bemanningslede aan boord is veilig en niemand is beseer nie.”

Oornagfasiliteit is vir die passasiers beskikbaar gestel en vlugte is vir Maandag gereël.

Beeld het berig dat mense aan die Oos-Rand rook op die linkervlerk van die vliegtuig kon sien. Die brandstof is by Tembisa gestort. Die storting van die brandstof is met behulp van die lugbeheerowerheid gekoördineer. “Die brandstof word teen ʼn hoë hoogte gestort,” het Chen verduidelik. Sy sê ingenieurs ondersoek die vliegtuig om te bepaal of die voëls die enjins van die vliegtuig beskadig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

WONDER ·

En wat word van die brandstof wat gestort word? Dit word seker in die atmosfeer opgeneem.

Koos ·

Genade, dit moes verskriklike vinnige en agressiewe voels gewees het wat so op die arme vliegtuig “toegesak” het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.