Noodlanding vir Turkish Airlines-vlug ná ‘tegniese probleem’

ʼn Vlug van Turkish Airlines het ʼn suksesvolle noodlanding op die OR Tambo-lughawe gedoen, nadat dit weens ʼn tegniese probleem ure lank in die lugruim bo Kaapstad gesirkel het.

Vlug TK45 was van Kaapstad na Istanboel onderweg en het Donderdag omstreeks 18:00 van die Kaapstad-lughawe opgestyg.

Lugvaartkenners het gesê die Airbus A330 se landingstoerusting het nie behoorlik teruggetrek nie en ʼn noodgeval is om 19:45 verklaar.

Bloomberg het berig vlugdata het gewys die vliegtuig het op ʼn hoogte van 20 000 voet gesirkel voordat dit na Johannesburg uitgewyk het. Dit is gedoen om soveel moontlik brandstof te gebruik. Dit is sodat daar so min as moontlik brandstof oor is wat moontlik met die landing kan vlamvat. Johannesburg het ʼn veel groter lughawe en is ook die hoofsetel van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se tegniese afdeling (SAAT).

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) het gesê die redery sou later ʼn verklaring oor die voorval uitreik.

Nooddiensvoertuie het die vliegtuig in Johannesburg ingewag waar dit omstreeks 22:36 veilig geland het. Niemand aan boord is beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.