Noodlottige ongelukke neem weer toe

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Die getal noodlottige padongelukke wat in Januarie vanjaar aangemeld is, is driekwart soveel as die getal wat presies ʼn jaar gelede aangeteken is. Die getal mense wat in hierdie ongelukke gesterf het, het egter nie op soortgelyke wyse toegeneem nie.

Luidens die padsterftestatistieke vir Januarie wat Fikile Mbalula, minister van vervoer, Maandag bekendgemaak het, is altesaam 637 noodlottige ongelukke en 774 padsterftes in Januarie vanjaar aangeteken. Dit verteenwoordig ʼn toename van 75% in noodlottige ongelukke en 18% in sterftes tydens dié ongelukke, teenoor verlede Januarie se syfers. Dié getal was onderskeidelik 484 en 602 verlede jaar gewees.

“Daar moet wel in gedagte gehou word dat die land in Januarie 2021 onder vlak 3 van Covid-19-beperkings was met ʼn aandklokreël wat die beweging van voertuie op die paaie gedurende sekere tye beperk het,” het Mbalula gesê.

Die meeste van die ongelukke het op Saterdae, Sondae en Maandae plaasgevind. Altesaam 90% van die ongelukke is weens menslike faktore veroorsaak, gevolg deur pad- en omgewingsfaktore (5%) en voertuigfaktore (4%).

Alle provinsies, behalwe KwaZulu-Natal en die Vrystaat, het in Januarie meer padsterftes as verlede jaar aangeteken.

Gauteng het altesaam 138 sterftes aangeteken, in vergelyking met 101 sterftes wat verlede jaar aangemeld is. Limpopo het ʼn toename van 51 sterftes vanjaar ondervind.

Wes-Kaap het ʼn toename van 39 sterftes, gevolg deur Oos-Kaap met 37 sterftes, Mpumalanga met 16 sterftes, Noordwes met 43 sterftes en Noord-Kaap met nege sterftes.

Die Vrystaat het altesaam 37 sterftes aangeteken, wat ʼn afname is in vergelyking met die 54 sterftes verlede jaar. KwaZulu-Natal het ʼn afname van 13 sterftes getoon.

Altesaam 39% van al die padsterftes was voetgangers, gevolg deur passasiers (28%), bestuurders (26%) en fietsryers (7%).

Volgens Mbalula sal die departement ʼn gefokusde nasionale voetgangerprogram instel om die gevaarlike roetes te teiken en só die aantal voetgangersterftes te verminder.

“Die departement sal ook doeltreffende padveiligheidsopvoeding en bewusmakingsveldtogte onderneem om riskante gedrag onder die jeug aan te pak. Hierdie veldtogte sal in hoëronderwysinstellings en jeuggeoriënteerde platforms van stapel gestuur word.”

Mbalula sê dronkbestuurbedrywighede sal vanaf Donderdae verskerp en oor die naweek voortgesit word.

Padoortreders kom hul moses teë

Volgens Mbalula het owerhede in Januarie ook reeds sowat 3 338 voertuie van die pad verwyder en 2 762 gevolglik geskut.

Altesaam 1 672 padblokkades is ook onderneem, met 741 027 voertuie wat gestop en nagegaan is.

Altesaam 173 686 verkeersboetes is uitgereik en 4 846 bestuurders is vir verskeie oortredings in hegtenis geneem.

“Opmerklike oortredings waarvoor verkeersboetes in die maand uitgereik is, sluit in die oortreding van die spoedgrense, die bestuur van ongelisensieerde voertuie, bestuur sonder bestuurslisensies, oortredings van verkeerstekens en die bestuur van voertuie met verslete bande.”

Verder is altesaam 961 bestuurders ook in hegtenis geneem vir dronkbestuur.

Sowat 1 051 bestuurders is vasgetrek vir die bestuur van voertuie wat gebruik word vir openbare vervoer sonder die nodige bedryfslisensie en 212 mense is in hegtenis geneem omdat hulle hul motors met passasiers oorlaai het.

“Ons wetstoepassingsowerhede gaan voort om die paaie veilig te hou, maar die verantwoordelikheid berus steeds by elkeen van ons padgebruikers.

“Ek doen dus ʼn beroep op alle burgers om hierdie verantwoordelikheid ernstig op te neem om die Suid-Afrikaanse paaie vir almal veiliger te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pienkie

Ek wonder maar net wat het van die padverkeersreel geword, DAT GEEN VOETGANGER op ‘n hoofweg mag loop nie, vandag is daar amper te veel voetganers op ‘n hoogweg.

Delilah

haal die taxi’s van die paaie af dan sal daar ook minder sterftes op die paaie wees.

SjN

Dronk voetgangers en taxis is die grootste probleem.

marius

Ja wat .

Kortbroek en plakkies

Miskien moet die minister gaan kyk na die toestand van die paaie en die werklike oortreders op die pad vasvat. Die taxis is ‘ n wet op sy eie en die wat met die groot L op die venster rondry en nie die padreels verstaan nie. Maar ja, die fout moet mos altyd elders gesoek word en dit is nie maklik om die regering se huis in orde te kry nie.