
Solidariteit se organiseerders, lede en die breër gemeenskap het Saterdag by Highveld Steel se ingang gebid vir die voortbestaan van die aanleg en vir ander uitkomste. Foto: Verskaf
Die vakbond Solidariteit en Helpende Hand het ʼn noodplan van stapel gestuur om die 300 Solidariteit-lede in Witbank wat hul werk onlangs verloor het, by te staan. Dit volg ná die sluiting van die staalreus Highveld Steel, en Vanchem Vanadium Products.
Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, het die sluiting as “een van Suid-Afrika se grootste afleggingstragedies” bestempel en gesê lede sal met kospakkies en CV-opdaterings ondersteun word.
Nagenoeg 2 187 mense is deur die afleggings by onderskeidelik Highveld Steel en Vanchem Vanadium Products geraak, waarvan 300 Solidariteit-lede is. Volgens Croucamp moes baie van die werkers wat afgelê is reeds sonder hul laaste maand se salaris klaarkom. Hulle het ook geen skeidingspakkette ontvang nie.
“As vakbond bly dit ons hoofdoel om die impak van die afleggingsproses op ons lede te versag. Ons sal tydens die afleggingskonsultasies met die werkgewer alle verdere alternatiewe tot afleggings voorstel en ondersoek. Daarby sal ons aanhou om druk op die regering te plaas om sy rol in die tragedie, asook sy verantwoordelikheid teenoor die werknemers wat deur die proses geraak word, te erken,” het Croucamp gesê.
Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, is die nood in die Witbank-omgewing onmiddellik en baie groot: “Hierdie tragedie het ʼn verreikende uitwerking op die gemeenskap in Witbank, en dit sal ʼn groter humanitêre krisis tot gevolg hê as die 2014-stakings by die Amcu-myn in Rustenburg. Die mense het reeds nie meer kos in hul kaste nie en is radeloos,” het Brink gesê.
Brink sowel as Croucamp het ’n dringende beroep op die publiek gedoen om te help om die nood te verlig. “Tydens die Amcu-stakings het ons baie hulp van die boere in die Rustenburg-omgewing ontvang. Nou word die land deur droogte en swaar ekonomiese tye geteister. Ons het beslis die publiek se hulp nodig om hierdie mense by te staan en die onmiddellike nood te verlig”, het Brink gesê.
Besoek www.helpwitbank.co.za vir meer inligting oor die Witbank-afleggingsnoodfonds.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
24 Kommentare
Met die onlangse drogtehulp aan boere het ons bewys ons kan mekaar ondersteun en respekteer . Kan ons dit weer doen
dankie vir die inligting. en laat ons saam staan.
As elke leser R50 gee, gaan ons ‘n verskil maak. Komaan Afriforum lede, waar is julle ?.
afriforum julle is ysters. Om ons mense te help, ek het nou die berig gelees, en gaan verseker iets doen om te help, want dis ‘n lekker gevoel om mense te help en niks terug te verwag nie. Eks in, wie nog. Ek gaan lees verder gou op http://www.helpwitbank.co.za
Is daar nie n manier dat privaat beleggers Highveld Steel kan koop nie?Eendrag maak mos mag.Ek sal definitief dit oorweeg om n bedrag te belê as dit haalbaar is.