‘Noodsaaklike diens’-kansvatters dalk vervolg

(Argieffoto: Yutacar/Unsplash)

Sakeondernemings wat verkeerdelik voorgegee het dat hulle ʼn noodsaaklike diens tydens die inperkingstydperk verrig en by die Kommissie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) aansoek vir permitte daarvoor gedoen het, se sertifikate sal opgeskort word.

Sidwell Medupe, woordvoerder van die departement van handel en nywerheid, het gesê die CIPC het ʼn hersiening van die aansoeke gedoen en bevind dat enigiets van kroeë en sjebiens tot kitskosrestaurante, pizza-plekke en glo selfs ʼn koekwinkel as noodsaaklike diensverskaffers geregistreer het.

“Ingevolge bepalings wat die regering afgekondig het kom dié ondernemings nie in aanmerking om hul dienste voort te sit nie,” het Medupe gesê.

Volgens die departement is diegene wie se bedrywighede weens die staat van algehele afsondering opgeskort moes word, se sertifikate gekanselleer. Die betrokke ondernemings se besonderhede sal ook aan die polisie oorhandig word vir verdere ondersoek en moontlik vervolging.

Medupe het gesê dit is uit die staanspoor duidelik gemaak dat die uitreik van ʼn sertifikaat deur die CIPC gegrond is op inligting wat die geregistreerde maatskappy verskaf het. Die besit daarvan verseker opsigself ook nie die reg om tydens die staat van algehele afsondering sake te doen nie.

ʼn Geregistreerde maatskappy kan vir die sertifikaat aansoek doen, maar slegs ondernemings wat ingevolge amptelike regulasies as noodsaaklike dienste of diensverskaffers geklassifiseer is, mag hul bedrywighede voortsit.

“Dit is ʼn strafregtelike oortreding om tydens die afsonderingstydperk aan te hou sake doen – tensy dit van die huis af gedoen kan word – as ʼn noodsaaklike diens nie verrig word nie. Dit is ook ʼn strafregtelike oortreding vir ʼn onderneming om ʼn wanvoorstelling oor die aard van sy bedrywighede te doen om ʼn CIPC-sertifikaat te bekom,” het Medupe gesê.

Die departement het ondernemings wat hul bedrywighede voortsit terwyl hulle nié as noodsaaklike diensverskaffers kwalifiseer nie, gemaan om dit dadelik te staak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jack ·

Omdat alle besighede moes toemaak in opdrag vd regering MOET die regering uit die bystandsfonds ALLE ondernemings vergoed, nie net noodsaaklike ondernemings nie. Die koekwinkel ens moes ook toemaak. Dus kwalifiseer hulle ook !!!!!!!

netekalleen ·

Hoekom is die sertifkate in die eerste plek aan sulke plekke uitgereik??

Johnny ·

Ek sien op ‘n ander nuusblad dat Wootware, wat rekenaargoed verkoop, mag handeldryf. Daaruit kan ek seker aflei dat rekenaartoerusting nou ‘n noodsaaklike produk is, en dus kan ons almal maar weer ons rekenaarbesighede oopmaak.

marius ·

Die regering het die permitte uitgereik . Die een hand weet nie wat doen die ander nie !

Jerry ·

Onthou net almal moet n lewe kan maak wie kan bekostig om by die huis te sit. Daar gaan baie slagoffers wees van die lock down en meeste gaan nie die virus eers gekry het nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.