Noodsaaklikheid van maatskaplike werk in kollig geplaas

Christia Potgieter, ’n maatskaplike werker en hoof van Solidariteit Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste stuur vandeesmaand, ter viering van Internasionale Maatskaplikewerkersdag, ’n veldtog van stapel om bewusmaking oor dié eerbare en noodsaaklike beroep te kweek.

Internasionale Maatskaplikewerkersdag vind op 21 Maart plaas. Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste het pas ’n peiling gedoen om menings oor hierdie beroep in te win.

Volgens die terugvoer van die peiling het die meerderheid mense al te doen gehad met ’n maatskaplike werker. Hoewel die meerderheid se ervarings positief was, was daar heelparty mense wat aangedui het dat hulle ervarings met ’n maatskaplike werker negatief was. Dié ervarings manifesteer gewoonlik wanneer ’n kind uit ouerlike sorg verwyder moet word.

“Die noodsaaklike rol wat maatskaplike werkers op ’n daaglikse grondslag in die samelewing vervul, word dikwels in ’n negatiewe lig gesien,” sê Christia Potgieter, ’n maatskaplike werker en hoof van Solidariteit Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste.

“Die publiek is ongelukkig meestal onbewus van die onmisbare dienste wat ’n maatskaplike werker in ’n gemeenskap lewer en is nie altyd ingelig oor die ware toedrag van sake, naamlik dat die maatskaplike werker nié die bevel om kinders uit ouerlike sorg te verwyder, uitreik nie,” verduidelik Christia.

“Só ’n bevel mag slegs deur ’n landdros van die kinderhof uitgereik word, en daar word deeglik ondersoek na die ouers se omstandighede ingestel. Die Kinderwet no. 38 van 2005 stel duidelike instruksies oor die inligting wat vir ’n kinderhofverslag vereis word. Gevolglik word ’n maatskaplike werker dikwels verkeerdelik beskuldig dat hy of sy bloot kinders van hulle ouers af wil wegneem.”

Volgens Christia is nog ’n wanpersepsie oor die beroep dat ’n maatskaplike werker nié oor ’n kwalifikasie hoef te beskik nie: die waarheid is dat ’n maatskaplike werker oor ’n vierjaargraad moet beskik en ook by die Raad van Maatskaplike Werkers (South African Council for Social Services) geregistreer moet wees.

Dié raad is die waghond van die beroep, en indien ’n maatskaplike werker hom- of haarself aan onetiese of onprofessionele gedrag skuldig maak, stel die raad ondersoek na die klagte in en kan die raad sover gaan as om ’n maatskaplike werker van die rol te skrap.

“Deur hierdie veldtog wil Helpende Hand bewusmaking skep oor wat maatskaplikewerkdienste behels, die verskillende fasette van die beroep, nodige kwalifikasies, die noodsaaklikheid van gemeenskapsontwikkeling asook inligting wat aan die publiek verskaf word rakende aanmeldbare sake en watter prosesse gevolg moet word.

“Daar word nou, meer as ooit tevore, baie druk op individue, gesinne en gemeenskappe se emosionele, finansiële en fisiese welstand geplaas, en maatskaplike werkers speel ’n integrale rol om hoop uit wanhoop te skep.”

Volg die veldtog op Solidariteit Helpende Hand se Facebook-blad, Instagram en www.helpendehand.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elize ·

Luister maatskaplike werkers kom nie op my erf nie. Hulle het ons kinders se kinderjare verwoes deur ons van ons pa weg te vat wat goed vir ons gesorg het nadat my ma van die huis af weggeloop het. Moes by vreemdes bly wat ook nie van die beste was nie en is ons sielkundig afgekraak by daardie huise sowel as die skool. My pa was toegelaat om ons een keer per maand te besoek en het hy baie kilometers gery om dit te doen. ‘n Man en pa met groter hart as myne moes mens vêr gaan soek en het hy goed na ons gekyk. Buurvrou wat regte skinderbek was het stories by die maatskaplike werkers gaan vertel en het hulle haar geglo. So letsels het oorgebly van die wonderlike maatskaplike werkers

Rooi rissie ·

Ek stem saam jou Elize. Hoeveel lewens het hulle nie al so verwoes nie. In plaas van om eerder te help skeur hulle die gesin uit mekaar uit en veroorsaak groot hartseer. Ek hou ook glad nie van die tipe mense nie.

Amelia ·

Hyl glo net wat hul wil en kinders se lewens word verwoes weet ook van kinders wat wat weg gevat is
dogtertjie toe gemolesteer en het vandag toe nog probleme praat van so 15 jaar gelede wat dit gebeur het so nee die wat weg gevat moet word is steeds by ouers en die res leef vir jare met probleme en skuld gevoelens as groot mense soek hul ook nie naby my nie

ILSE ·

Ons sit met ‘n geval in ons area waar maatskaplike werkers betrokke is, maar hulle beteken net mooi niks nie!!!

blyweg ·

Ek stem saam, hulle is walglike mense. My kinders was ook weg gevat het 4jaar baklei van hulle oor FAMILIE wat dink hulle weet die beste en nou weer try hulle my kinders weg vat oor die FAMILIE SUSTER VAN my nie kinders kan kry op haar eie of n man het nie. Als oor jaloesie en dink hulle kan mens se lewe regeer. Die welsyn mense is soos die government doen net wat hulle wil en plaas die arme klein mensies in sorg wat erger as sy eie is.

Leeu ·

Maatskaplike werkers (spesifiek die CMR) het die afgelope paar dekades ‘n groot gemors in ons land veroorsaak met magsmisbruik rondom die verwydering van kinders van gesinne waar daar nie voldoende gronde en ondersoeke was nie. Ek is moeg vir die holrug geryde verskoning dat dit nie maatskaplike werker is wat die kind verwyder nie, maar die kinderhof. Die realiteit is dat die kinderhof 100% op die aanbeveling van die verslag van die Maatskaplike werker gaan, omrede die hof bona fide glo dat die maatskaplike werker wel onafhanklik is en volledige ondersoeke gedoen het. Die paar sake wat die afgelope tyd in die media was is die tippie van die ysberg. Daar is ‘n slagveld gelaat en duisende gesinne is opgebreek . EK doen ‘n ernstige beroep op die NG kerk om dringend hulle eie ondersoek te loods na maatskaplike werkers wat onder die vaandel van Christelike Barmhartigheidsdienste links en regs kinders verwyder. Die magte wat aan maatskaplike werkers gegee word itv wetgewing behoort te stop

skurweberg ·

Groter klem behoort op die Terapeutieserol van Maatskaplike werkers gelê te word. Hulle opleiding moet so aangepas word dat hulle bekostigbare en wetenskaplike Inventarisse kan gebruik om data in te samel ook via die kind om leerlinge en ouers te help. Die ideaal een Maatskaplike werker per skool.

E ·

Maatskaplike werkers is mense wat die meeste seer in die lewe “sien”. Hulle hoor nie net daarvan of lees daarvan in koerante nie – hulle sien dit elke dag! Dit is anders as ek en jy wat net daarvan lees of daarvan hoor. En dan is hulle taak verder, om dikwels baie moeilike besluite te neem. Geen maatskaplike werker wil ‘n kind verwyder nie! Wat hulle wel wil hê is dat elke kind, gesin en gemeenskap gelukkig is en dit kan uitleef.

Ek haal my hoed vir elke maatskaplike werkers af wat bereid is om die seer van die wêreld heel te maak, terwyl hulle maar bittermin ‘n dankie kry vir dit wat hulle doen.

Dalk is dit tyd om ook dankie te sê vir die goeie werk wat hulle doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.