Noodvoorrade deur lugbrug na KZN vervoer

Noodvoorraad word in ‘n vliegtuig gelaai wat vir KwaZulu-Natal bestem is. (Foto: Verskaf)

Die anargie, verwoesting en nood wat KwaZulu-Natal (KZN) getref het tydens onlangse protesoptogte en brandstigting is ’n ramp, maar dit het ook gewys wat gedoen kan word as gemeenskappe gerat is om in te spring en ’n verskil te maak. Só sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Dié organisasie, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand en ʼn aantal ander organisasies, het die afgelope week sowat 800 kg se noodvoorraad deur middel van ʼn lugbrug van Gauteng na KwaZulu-Natal vervoer.

“Gemeenskappe het saam met ander rolspelers kragte gesnoer om vinnig ’n plan te maak om noodleniging deur middel van ’n lugbrug in KZN moontlik te maak.

“Ons het weer eens besef dat ons nie uitgelewer is nie en selfs in tye van nood kan optree om kwesbare mense te help en by te staan.”

Dié noodvoorraad is vir KwaZulu-Natal bestem. (Foto: Verskaf)

Die operasie is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, Sam Keddle en Santje White van die Commercial Aviation Association of Southern Africa NPC (CAASA), Mike Barnes, uitvoerende hoof van die Mutual Group of Companies, en Michael Goodwin, koördineerder by dié groep, Rachel Muir, direkteur van Federal Airlines, AfriForum se lugsteun-afdeling, Forum Sekuriteit, die lugvaartgemeenskap, plaaslike takstrukture asook veiligheidstrukture aangepak. Helpende Hand het die noodvoorrade verpak en beskikbaar gestel.

Volgens brig.genl. Deon Steyn, lugsteun-bestuurder by AfriForum, is 800 kg se noodvoorraad, wat medisyne en voedsel insluit, suksesvol van Gauteng na KZN deur middel van pad- en lugvervoer afgelewer. Die lugbrug was noodsaaklik omdat alle roetes en hoofweë aanvanklik gesluit was en voorraad nie per pad vervoer kon word nie. Dit is by lughawens in die provinsie beveilig en vandaar deur strukture na gemeenskappe in nood na dorpe versprei. Dit is hoofsaaklik na ouetehuise en sentrums vir gestremdes versprei wat nie toegang tot voorraad gehad het en steeds nie het nie.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê terwyl mense nog steier onder die impak van Covid-19, is hier nou ’n nuwe krisis. “Ons het uit Covid-19 geleer en is nou in ’n goeie posisie om vinnig en volhoubaar te kan optree. Ons weet nou dat ons voorraad vinnig kan verpak en versprei na plekke waar dit nodig is. Die gevolge van die plundering gaan nog lank met ons wees en die maatskaplike nood neem daagliks toe. Ons doen ’n beroep op mense wat kan om die Solidariteit Beweging se Krisisfonds te steun.

Noodvoorraad bestem vir KwaZulu-Natal word in ‘n stoor in Gauteng gepak. (Foto: Verskaf)

“Hoe meer mense saamwerk, hoe kragtiger is die uitwerking wat ons pogings het.”

Die omvang van die skade word deur sommige ontleders reeds op meer as R20 miljard geraam. Behalwe dat daar ’n probleem is om kos en ander voorrade na die provinsies te versprei, is die skade aan infrastruktuur enorm en sal dit waarskynlik etlike jare neem om dit weer op te bou.

Kriel wys daarop dat die krisis nie afgeweer is nie. “Ons moet voortgaan om te help en doen ’n beroep op ons lede en die publiek om te help waar hulle kan. Die nagevolge is baie groot. Hulle kan help deur bokse met niebederfbare produkte te pak of ’n donasie te maak as hulle nie ’n boks kan aflewer nie.”

Inligting oor watter soort voorraad gepak kan word en by watter van Helpende Hand se punte dit in die onderskeie provinsies en streke afgelewer kan word, is by www.noodfonds.co.za beskikbaar.

’n Donasie kan gemaak word by:

Banknaam: First National Bank

Rekeninghouer: AfriForum NPC

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 62349898398

Verwysings: Noodfonds

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

En daar is dit alweer AfriForum, Solidariteit en Gift of the Givers wat moet red wat te rede is!

Anel ·

Nou wonder ek of die gespuis wst so geplunder het ook in die tou staan vir kos!

Jacobus ·

Die Afrikaanse media, joernaliste en kommentators spoel gereeld hul monde uit oor Afriforum en Solidariteit, maar wie help byna altyd eerste? Ek dink Afriforum, Solidariteit en Gift of the Givers verdien een of ander medalje, maar intussen is; “Baie dankie”, seker ook vir hulle ‘n mate van erkenning.

Psyggie ·

Dit is altyd ‘n riem onder die hart dat daar barmhartige samaritane is.
Die vraag is: hoe word seker gemaak dat die noodvoorrade by die werklik verdienstelikes uitkom?

Blomme ·

Goeie daad van goeie mense. Maar steeds so onnodig.. Onnosele, gierige boewe se toedoen wat daartoe lei dat onskuldige mense geraak is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.