Nooitgedacht-waterprojek staan stil ná begroting besnoei word

Argieffoto

Fase drie van die Nooitgedacht-waterprojek buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap wat in die lig van droogte in die provinsie as die stad se “reddende genade” bestempel is, het tot stilstand gekom nadat die departement die begroting drasties besnoei het.

Leon Basson, DA-LP in die Oos-Kaap, het Maandag gesê die Departement van Water en Sanitasie het die aanvanklike begroting van R92 miljoen met altesaam R34 miljoen besnoei.

Dié aankondiging beteken ʼn dringende tekort van R23 miljoen omdat kontrakteurs nog betaal moet word vir die werk wat reeds gedoen is.

Volgens Basson word die projek met R75 000 per dag beboet terwyl dit tydelik tot stilstand gekom het. “Ons wil nie in ʼn geskil met die departement beland nie. Ons wil met hulle byeenkom en die probleem oplos sodat die projek kan voortgaan,” het hy gesê.

Basson het gesê Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, het geen plan om die droogtekrisis in die Oos-Kaap én die Wes-Kaap op te los nie en is oënskynlik nie bereid om geld vir dié kwessies beskikbaar te stel nie.

Annette Lovemore, burgemeesterskomiteelid van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, het bevestig dat die projek tot stilstand gekom het nadat betalings nie gemaak is nie.

“Die wet verhoed enigeen om voort te gaan as ʼn veiligheids-en-gesondheidsinspekteur nié ook aan die projek werk nie – en die persoon weier uiteraard om verder te gaan totdat hy betaal is,” het sy gesê.

Volgens Lovemore sal ʼn erge droogte die stad na alle waarskynlikheid weer in 2020 in die gesig staar as die projek nié voortgaan nie.

Die Nooitgedacht-projek is van sleutelbelang om te verhoed dat die stad se grootmaat-watervoorsiening opraak. Die projek suiwer daagliks sowat 140 miljoen liter water – ʼn groot hoeveelheid wat byna die helfte van die inwoners van die stad van vars water sal voorsien.

Die projek het reeds meer as 25 jaar gelede begin. Dit suiwer water vanuit die Gariepdam en versprei dit dan na die Nelson Mandelabaai-metro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rabes ·

Ek het nooitgedacht die projek sal voltooi word met al die onderonsies

Domme ·

Dit is tyd om die uitbreidings van huidige stede te stop en nuwe ontwikkelings te begin waar water beskikbaar is. Dit kan mos nie só moeilik wees?

Antjie ·

Kan die NPA en DA, en ander met kennis asb vir Nomvula dringend strafregtelik vervolg vir die talle duur, gestaakte projekte landwyd wat menselewens kan bedreig? Die probleem is nie klimaatsverandering of die lokale regerings nie, dis eerder hierdie departement se pligsversuim. Dank die hele spul af, en vervolg hulle sommer ook! Skenk die geld wat bevry word dan aan plaaslike regerings of maatskappye wat verantwoordeliker daarmee kan omgaan. Dis skandalig dat joernaliste steeds die Kaapse munisipaliteite aanval as sulke dinge orals gebeur. Nkandla kan help betaal!

jaco ·

Dis seker ook die Here wat die DA-beheerde munisipaliteit straf net omdat hulle DA stem. Dis mos wat ‘n ANC-raadslid so ‘n jaar terug oor die droogte in die Wes-Kaap gesê het.

Arie ·

Nou weet ek nie so mooi nie.
Die Minister van Water en Sanitasie weier (volgens die berig) om fondse beskikbaar te stel sodat n watervoorsieningprojek kan voortgaan in n tyd van groot waterbehoefte/nood by n metropool.

Maar is haar mandaat dan nie juis om watervoorsiening te bewerkstellig nie ?

Hoe moet ek nou die kloutjie by die oor bring ? Ek vra maar net, want ek sou graag wou weet !!

jaco ·

dis mos nou duidelik wat hier aan die gang is: ANC-beheerde dept van water en sanitasie weier fondse aan die DA-beheerde Nelson Mandelabaai metropool. In die droogtegeteisterde kaapstad is die sluise van die Theewaterskloofdam, wat klaar amper leeg is, permanent OOP. Dis alles n plan van die ANC om Kaapstad en Port Elizabeth onregeerbaar te maak, sodat hulle dan kan inbeweeg en oorvat. so what as van hulle rasgenote ook nie water kry nie, want daars baie in die res van die land wat mos steeds vir hulle stem.

Myra ·

Sny die minister se water af, heeltemal! Wonder of hy dan sal wakker skrik. Ons het mense in hoe posisies wat net nie hulle werk doen nie. Doen ek nie my werk nie, is ek more sonder werk. Ek weet nie hoe werk hulle nie. Vir my lyk dit dat wanner jy n pos het in die parlement het, jy mag maak nes jy wil en daarmee weg kom. Lekker ou gravy trein!

ANDRE ·

In hierdie land sal die kloutjie en die oor nooit weer by mekaar uitkom nie.

John ·

In ‘n ander projek sou water per pypleiding na Bloemfontein uit dieselfde Gariepdam vloei om die watersnood wat reeds 2 jaar duur te help oplos. En laasjaar was die Gariep so leeg dat mense tot in die middel droogvoets kon stap. Moet die arme Gariep nie sommer ook die Egiptiese Nyl help voed in swaar jare nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.