Noord-Kaap-gemeenskap sê néé vir onteiening

(Argieffoto: pixabay)

Die meeste inwoners van die Dawid Kruiper-munisipaliteit, wat in Upington in die Noord-Kaap gesetel is, het Sondag die voorgestelde wysigings aan artikel 25 van die Grondwet verwerp.

Die hoofrede hiervoor, sê inwoners, is dat die wetsontwerp, naamlik om onteiening sonder vergoeding toe te laat, daartoe sal lei dat die geldwaarde van grond in die omgewing drasties sal afneem. Dit sal ook ʼn uitwerking op die bereidwilligheid van finansiële instellings hê om lenings aan eienaars toe te staan om die betrokke eiendom te verbeter.

Malatswa Molepo, parlementêre woordvoerder, het gesê die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur het Sondag die tweede deel van die openbare verhore in die Noord-Kaap by die Tol Speelman-saal in Upington afgesluit.

Tydens dié verhore het die gemeenskap onder meer gesê dat die voorgestelde wetsontwerp ʼn gevaar kan inhou vir huiseienaars, voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit. Die gemeenskap is bekommerd dat enige veranderlike wat voedselonsekerheid en ekonomiese onstabiliteit veroorsaak tot verhoogde werkloosheid en armoede sal lei.

Die gemeenskap het aangedring op meer beraadslaging met en betrokkenheid van die belanghebbendes om te verseker dat die wetsontwerp spesifiek is oor wanneer en hoe eiendom onteien sal word, indien dit wel goedgekeur word.

Die inwoners het gevra dat plaaseienaars, werkers en ander belangegroepe saamwerk om te verseker dat die landbousektor stabiel en volhoubaar bly.

ʼn Aantal inwoners het egter die voorgestelde wetsontwerp verwelkom as ʼn doeltreffende hulpmiddel om armoede en werkloosheid te beveg. Hul opvattings is gegrond op die idee dat die breër gemeenskap daarby sal baat indien al hoe meer mense aan die ekonomie deelneem.

Die tradisionele Khoi- en San-leiers ondersteun ook die wetswysigings en het tydens die verhore gesê die onteieningswetsontwerp sal verseker dat hulle erken word as die oorspronklike grondeienaars in dié omgewing en dat lede van hul gemeenskap weer die grond sal kan bewoon.

Opkomende boere hoop die wetsontwerp sal verseker dat groot grondeienaars die grond met hulle deel, maar bestaansboere het daarop gewys dat hul groeipotensiaal juis hierdeur verder ingekort sal word.

Deelnemers aan die verhoor het ʼn beroep op die regering gedoen om so gou moontlik staatsgrond ook aan lede van die publiek vry te stel.

Die komitee sal Maandag die openbare verhore by die Kathu-stadsaal voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nicholaas

Ek kan help om te wonder wat gaan die mense doen as hul grond kry, gaan hul rerig oorgaan na grootskaalse boerdery of gaan hul net bly op die grond met n pasr hoenders, beeste of bokke met n klein groente tuin wat skaars vir hulself sal kan onderhou, rykdom kom uit deursettings vermoe, harde werk en baie opofferings, kyk hoeveel mense is weer arm na hul baie geerf of gewen het.

Snowball

Ongelukkig beteken ‘aan die ekonomie deelneem’ vir die meerderheid om alles verniet op ‘n skinkbord te kry, met minimum persoonlike insette, ten koste natuurlik van dié wat self moes werk en betaal vir dit wat hulle het en nou onteien gaan word. Wil sit-sit en rus-rus baat, terwyl iemand anders êrens vir die gelag moet betaal. ANC bekyk mos nou die moontlikhede van ‘n solidariteitspensioen sodat werkloses ook kan aftree.

Blomme

Die grond onteiening storie is die voorloop van ń Zimbabwe situasie.. Daar steek NIKS goed daarin nie.

Charl

Staatsbeheerde grond, ek se weer dit klink darem baie na ‘n kommunistiese Rusland van ouds.