Noord-Kaapse boere ontvang uiteindelik deel van droogtefonds

Kleinskaalse boer Paul van Wyk kniel by ʼn waterpan in Vosburg in die Noord-Kaap (14 November 2019) (Foto: AP Photo/Denis Farrell)

ʼn Deel van die R35 miljoen-droogtetoelaag wat al sedert Februarie vanjaar te midde van ʼn erge droogte in die Noord-Kaap weerhou is, is uiteindelik vrygestel.

Noko Masipa, DA-LP en Reinette Liebenberg, DA-lid in die provinsiale wetgewer, het in ʼn verklaring gesê die bedryf en die Demokratiese Alliansie, op provinsiale en nasionale vlak, het deurgaans druk op die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming geplaas om die toelaag vry te stel.

“Die Noord-Kaap gaan steeds gebuk onder die ergste droogte in 100 jaar,” het Masipa en Liebenberg in ʼn verklaring gesê. “Die swak koördinering van ondersteuning aan die boere het die situasie vererger. Pres. Cyril Ramaphosa het op 30 September 2020 die Verenigde Nasies se beraad oor biodiversiteit toegespreek waar hy versoek het dat klimaatsvriendelike landbou ingestel moet word. Alhoewel die DA die president se sentiment ondersteun, moet dit opgevolg word met optrede op grondvlak en in dié verband het die departement ten volle misluk.”

Volgens die vroeë waarskuwingskomitee se verslag in Junie 2020 is daar tekens van vier gebiede wat veral erg getref is deur die huidige droogte. Van Wyksvlei, Springbok, Loeriesfontein en Kenhardt het die afgelope vier jaar baie minder as hul langtermyn gemiddelde reënval ontvang.

Reënval (mm)
Gebied Langtermyn gemiddeld (mm) 2017 2018 2019 2020
Springbok 135 mm 64 mm 67 mm 48 mm 7 mm
Loeriesfontein 220 mm 81 mm 109 mm 78 mm 27 mm
Kenhardt 155 mm 107 mm 97 mm 43 mm 4 mm
Van Wyksvlei 190 mm 147 mm 101 mm 57 mm 100 mm

Volgens die verslag sal R413,1 miljoen oor ʼn drie maande periode benodig word vir vroeër herstel ná die droogte.

“Tensy die regering ingryp, het die verslag ʼn jaarlikse verlies van R495 miljoen vir die volgende ses jaar beraam en as die algehele landbou en waardetoegevoegde ekonomie in ag geneem word, styg dié verlies jaarliks na R1,061 miljard oor die volgende ses jaar.”

Die verslag dui ook daarop dat dié gemeenskappe oor die volgende ses jaar 6 267 werksverliese per jaar sal ly sonder die nodige ingryping.

“As kabinetgroepe van die departement, die nasionale tesourie, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en die provinsiale LUR verantwoordelik vir landbou en omgewingsake nie in silo’s gewerk het nie, kon hulle sekerlik ʼn poging aangewend het om die verslag te oorweeg en minstens ʼn deel daarvan in werking gestel het om die negatiewe impak van die droogte te verminder en die ekonomie te stimuleer om die bloedbad van toekomstige werksverliese en moontlike voedselsekerheid te voorkom.”

Die DA benadruk sy vorige versoeke dat boere in dele van die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Noordwes en Oos-Kaap, wat deur die droogte geraak is, gekoördineerde ondersteuning en kommunikasie benodig. “Hul skuldlas verhoog en raak ondraaglik. Die nasionale tesourie was tot dusver grootliks afwesig om ondersteuning te verskaf in landbou waar dit benodig word. Die Landbank het in die verlede droogteverligtingsfondse bekom wat deur die bank beskikbaar gestel is in die vorm van goedkoper lenings. Vir die Landbank om dié droogteverligting te verskaf, moet die gebiede eers as ʼn ramptoestand verklaar word. Die realiteit is dat die Landbank se versuim om nou die boere te help, ʼn teken is van die aandeelhouer wat in ʼn chaotiese toestand is, en eerder kies om ʼn uitgediende lugdiens te help ten koste van voedselsekuriteit en werksverliese. Die afgradering van die Landbank deur Moody’s kan voedselsekuriteit vererger vir Suid-Afrika se mees kwesbare burgers.”

Die DA doen opnuut ʼn beroep op Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, om die klassifikasie van die droogte weer as ʼn ramptoestand in te stel ná die hoof van die nasionale rampbestuureenheid, dr. Mmaphaka Tau, dit op 16 Julie 2020 herroep het, en om al die gebiede, wat steeds deur die droogte geteister word, só aan te dui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Die Wolf

Ek het nie geweet dat SAL ook vir droogtehulp in aanmerking kom nie.

J

Gefaalde ANC rampokker regering kan NIKS reg doen nie!

Maar ons is dankbaar saam met die boere!

Die Karoo WOESTYN is baie meer geskik vir SONPLASE waar krag opgewek word vir die “kraglose’ massas.

Komaan Karoo boere skakel oor na ‘kragboerdery’!

Samuel

Dit is goeie nuus dat Karooboere hul regmatige deel van droogte hulp kry. Sterk staan, boere.