Noord-Kaapse gesondheidshoofde in hof oor tenders

Die kontrakte is glo toegeken sonder dat die voorgeskrewe maatreëls gevolg is. (Foto: Timothy Bernard/ANA)

Die waarnemende hoof van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap en die finansiële hoof van dieselfde departement is borgtog van R20 000 elk in die Kimberley-landdroshof toegestaan. Hulle staan tereg op aanklag van bedrog en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).

Dr. Dion Theys (54), die waarnemende hoof, en Mosimanagape Gaborone (52), die finansiële hoof, het Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by die toekenning van ʼn tender sonder om die voorgeskrewe maatreëls te volg.

Die twee senior amptenare het glo verlede jaar kontrakte aan twee maatskappye vir die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting ten bedrae van R43 miljoen toegeken.

Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, sê ʼn ondersoek deur die eenheid vir ernstige korrupsieondersoeke het tot die twee se inhegtenisneming gelei.

Genl.maj. Kholekile Galawe, provinsiale hoof van die Valke, het die eenheid vir hul deeglike ondersoekwerk geloof en gesê dit het tot die inhegtenisneming gelei.

“Die Valke gaan voort om hul ondersoekpligte sonder vrees of guns na te kom, ongeag die posisie of status van diegene betrokke,” sê Galawe.

Die saak teen die twee is tot September uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

R20 000 borg elk vir R43 miljoen se bedrog? Pateties regtig verdomp pateties! Hulle plunder omtrent

Nie Verbaas ·

“Die Valke gaan voort om hul ondersoekpligte sonder vrees of guns na te kom, ongeag die posisie of status van diegene betrokke,” sê Galawe. Maar die Malemas, Magashules, Zumas en vele ander hoës loop nog steeds vry en sake word aanhoudend uitgestel. Almal is nie onnosel nie ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.