Noord-Kaapse hoteleienaar vermoor

Leon en Suretha Brits (Foto: Verskaf)

Leon Brits, die eienaar van die Pofadder Hotel in die Noord-Kaap, se liggaam is Woensdag in die swembad van sy huis op dié dorp gevind.

Leon is vermoedelik verwurg en met ’n skerp voorwerp gesteek voordat sy liggaam in die onderdakswembad agtergelaat is.

Riaan Oberholzer, ’n familielid, vertel aan Maroela Media dat Leon en sy vrou, Suretha, vanoggend in die hotel met take doenig was toe Leon ’n oproep van ’n werker ontvang het.

Die betrokke werker het gevra of hy die honde by die huis kan toemaak sodat die huis skoongemaak kan word.

Leon is na die huis toe wat nie ver van die hotel geleë is nie. Toe Leon egter nie weer teruggekeer na die hotel nie en Suretha hom later die oggend nie oor die telefoon in die hande kon kry nie, is sy huis toe om na hom te gaan soek, vertel Oberholzer.

Hier het Suretha op haar man se liggaam in die swembad afgekom.

Oberholzer sê hoewel die besonderhede in dié stadium nog nie duidelik is nie, lyk dit of Leon met een van die honde se kettings gewurg en met ’n mes gesteek is voordat hy na die swembad gesleep en agtergelaat is.

“Dit is groot skok. Dit voel onwerklik,” sê Oberholzer.

Hy vertel dat Leon glo net die vorige aand vir sy broer vertel het dat hy probleme met van die hotel se personeel het aangesien daar na bewering uit die kombuis gesteel word.

Wynand Boshoff, provinsiale leier van die VF Plus, sê die moord op Leon het die meestal vreedsame Boesmanland geskok.

Hy verwys ook na vroeëre gerugte dat die voorval met ’n arbeidsgeskil verband hou.

“Pofadder het oor die afgelope jare sterk gegroei, met die Kamsbergmyn wat tussen hierdie dorp en Aggenys ontwikkel is. Dit skep ekonomiese moontlikhede in Boesmanland, wat steeds onder ’n vernietigende droogte gebuk gaan. Ekstensiewe skaapboerdery in woestynomstandighede is naas toerisme die enigste ander noemenswaardige ekonomiese aktiwiteite.

“Oor die algemeen is die sorgvrye aard van die omgewing en die vriendelikheid van die mense een van die omgewing se sterkste bates. Tyd sal leer of hierdie voorval ’n permanente einde daaraan gebring het.”

Boshoff het die gemeenskap van Pofadder tot kalmte gemaan tot dit duidelik is wat presies gebeur het. “Met die stygende temperatuur na aanleiding van wreedaardige moorde, beleef Suid-Afrika tans ’n plofbare situasie.”

Leon word oorleef deur sy vrou en drie jong kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hoekom

Ons volk word beleër!!

Danie

Hoeveel nog, voor die week om is? Jammer vir die familie, maar dis al wat ons kan doen is om elke dag te sê JAMMER! Nou het dit te ver gegaan!

Riaana

Nog n Wit Suid-afrikaner… Vermoor… Maar ons moet stil bly en yoe kyk.. Nee dit is klaar, ons sal nie langer slawe van di anti christ wees nie, dis hier waar die streep getrek word.

melaney

Dit moet moeilik wees vir diegene wat werkers in besighede nodig het. Hulle staan ‘n groter kans om vermoor te word. Plaas daarvan dat die werkers dankbaar is vir ‘n werksgeleentheid, wil hulle eerder die baas vermoor. Maak nie sin nie.

Scalla

Onbetroubaar, makste een byt die seerste.