Noord-Kaapse leerders nie Maandag al by skool

(Argieffoto)

Terwyl die res van die land se gr. 7- en gr. 12-leerders Maandag, wanneer Suid-Afrika na koronavirus-vlak 3 afwentel, weer terug op die skoolbanke gaan wees, sal dieselfde leerders in die Noord-Kaap eers ʼn week later aanmeld.

Die LUR vir onderwys in die Noord-Kaap, Mac Jack, sê hoofde en skoolbestuurspanne sal reeds Maandag op hul pos wees en gaan dan hul persoonlike beskermende toerusting ontvang en voorbereidings begin tref vir die terugkeer van onderwysers, asook gr. 7- en gr. 12-leerders. Hulle ontvang intussen ook Covid-19-opleiding by skole.

Onderwysers by die provinsie se 562 skole moet Woensdag vir diens aanmeld.

Jack sê teen Woensdag het 439 skole reeds hul basiese higiënevoorraad ontvang. Die voorraad sluit seep, handontsmettingsmiddels, chirurgiese handskoene, gesigmaskers, plastiekvoorskote, ontsmettingsmiddels, termometers en bioveiligheidsakke in.

Die res van die skole behoort teen Vrydag hul voorraad te ontvang, sê die LUR.

Die provinsie het reeds meer as 1 400 skoolverlaters aangestel wat siftingstoetse by skole kan doen. Alle skole is reeds ontsmet en skoongemaak en honderde bykomende skoonmakers is aangestel om te verseker dit bly so.

Die LUR sê daar is tydens die staat van landwye afsondering by 99 skole in die provinsie ingebreek, of dit het onder vandalisme deurgeloop. “Dit ontstel my dat ons gemeenskappe só optree terwyl ons kinders vir sukses probeer voorberei. Ons skoolgemeenskappe moet die eerste linie van verdediging wees en moet eienaarskap van skole neem.”

Vier skole in die provinsie het glad nie water nie en moet van watertenks voorsien word. Nóg 39 skole sal bykomende watertenks kry, sê Jack.

Aanvanklik sal drie skole vir leerders met spesiale behoeftes heropen word en die departement het reeds 1 849 leerders met onderliggende mediese toestande geïdentifiseer. Dié kinders se ouers is aangeraai om hul kinders steeds tuis te hou.

Jack sê die departement beoog bykomende steun vir onderwysers en leerders wat ekstra klasse, kampe, naweeklesse, e-leer en praktiese lesse insluit.

Volgens die LUR sal die Mei/Junie- en Oktober/November-eksamen ook gekombineer word. ʼn Hersiene skedule hiervoor word later bekend gemaak.

Die LUR sê ouers wat tuisonderrig wil voortsit, moet aansoek doen daarvoor by die departementshoof en mag ook net vir hul eie kinders aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierre ·

Iemand daar buite!! Verduidelik asb vir my waarvoor moet skole voor die tyd ontsmet word? Wat het daar gebeur wat ons nie van weet nie? Skole was al gesluit VOOR die uwe virus hier kom rondloop het. Is dit dalk wat tussen 20h00 en 06h00 daar gebeur het? Maak net soveel sin as die rook verbod. Jou longe is basies eers na ‘n HELE paar maande weer soortvan ok. Duh!

PH ·

As jy jou kind registreer vir tuisonderrig, verloor jou kind sy plek in die skool.? Maw kan die departement ‘n ander kind in die skool plaas in jou kind se plek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.