Noord-Kaapse LUR vir onderwys sterf

Mac Jack (Foto: Dept. Basic Education via Twitter)

Macollen Jack, die Noord-Kaapse LUR vir onderwys, is Woensdag vroegaand in ʼn hospitaal in Kimberley oorlede. Hy is glo aan Covid-19 oorlede.

Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, sê Jack is verlede week in die Mediclinic Gariep in Kimberley opgeneem. Hy sê Jack was soos altyd in ʼn opgewekte stemming en vol vertroue dat hy sou herstel.

“Ongelukkig het sy toestand verswak en is hy vroeër die aand dood verklaar,” het Saul Woensdagaand gesê. “Jack was ʼn gesoute kader van die beweging en ʼn uitstekende amptenaar. Hy het vegtergees en buitengewone energie gehad.”

Saul het sy medelye aan Jack se vrou, kinders, familie, vriende en kollegas betuig.

“Ons is baie geskok oor sy onverwagse heengaan. Hy gaan beslis ʼn leemte laat as merkwaardige en bevoegde leier,” sê Saul.

Die provinsiale leierskorps, die ANC en alliansievennote gaan Donderdag met die familie byeenkom. Verdere besonderhede oor die begrafnisreëlings sal later bekendgemaak word.

Angie Motshekga, die minister van onderwys, het ook haar innige meegevoel aan Jack se familie en die provinsiale departement van onderwys in die Noord-Kaap betuig.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die departement van onderwys is Jack in 2019 tot lid van die uitvoerende raad van die provinsiale onderwysdepartement verkies. “Hy was ʼn gesoute leier en opvoedkundige. Hy kon goed bande tussen die gemeenskap en departement bou. Hy was ʼn geesdriftige kampvegter wat die tweede myl vir skole en leerders sou saamloop,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Sterkte aan die familie daar.

Pierreli

Volgens berig, “Hy is glo aan Covid-19 oorlede.” So hulle weet nie vir seker nie. Net weereens ‘n bewys hulle kook die statistieke om die populasie bang te maak vir die sogenaamde pandemie.

Dries

“…gesoute kader…” Sjoe, okay dan.

Bernard

Kom ons wees eerlik; groteske vetsug is amper ‘n doodsvonnis