Noord-Kaapse sakeman verongeluk

Tiaan Barnard (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van Kathu in die Noord-Kaap is in rou gedompel nadat ’n plaaslike sakeman vandeesweek in ’n motorongeluk gesterf het.

Tiaan Barnard (41) is Maandag omstreeks 12:00 in ’n motorongeluk op die N14 tussen Kathu en Postmasburg dood toe ’n bakkie reg van voor teen ’n vragmotor gebots het. Nog een persoon het in die voorval omgekom.

Barnard was die areabestuurder vir die maatskappy Otraco Southern Africa in die Noord-Kaap.

“Tiaan was ’n man van karakter en integriteit. Hy het diep spore getrap in die band- en mynbedryf met sy jare lange verbintenis met Michelin voordat hy hom by Otraco in 2013 aangesluit het,” sê André Bode, landwye bestuurder van Otraco SA, aan Maroela Media. Dié maatskappy spesialiseer in die onderhoud en bestuur van grondverskuiwingsbande by hoofsaaklik oopgroefmyne.

Bode beskryf Barnard as ’n hardwerkende en toegewyde werknemer. Hy vertel dat Barnard boonop nou betrokke was by geldinsamelings vir plaaslike instansies waaronder plaaslike skole in Kathu, Postmasburg en Beeshoek. “Sy heengaan sal beslis ’n groot leemte in die maatskappy en veral in die Noord-Kaapland laat.”

Barnard word oorleef deur sy vrou, Antonette, en twee kinders, Chantenique en Christiaan.

Hy word Vrydag omstreeks 11:00 uit die NG kerk Kathu ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Destarte ·

Dit is régtig só onnodig.

Nog ‘n persoon wat gesterf het, omdat iemand nie reg gery het nie.
Kop aan kop sê gewoonlik nét een ding. Iemand was onverantwoordelik.

Ek ry motorfiets en sien daagliks hoe mense geheel en al geen respek toon teenoor enige wette, reëls of hulle mede padverbruikers.
Die ironie van die saak is, dan wil hulle die pad alkohol vlak na 0% verander, ipv om die wortel van die probleme op die paaie te soek.

Baie sterkte aan die geliefdes wat die hartseer en pyn moet verwerk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.