Noordwes-betogings: ‘ANC, Mahumapelo ewe skuldig’

ʼn Bus is aan die brand gesteek tydens ʼn betoging in Montshioa naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: ANA

Die VF Plus in Noordwes sê die onluste in Mafikeng in dié provinsie is net nóg ʼn teken van die skade wat die regerende party die provinsie reeds berokken het.

Dit kom nadat spanning Donderdagmiddag weer ʼn hoogtepunt bereik het te midde van toenemende eise dat Supra Mahumapelo, premier van die Noordwes, moet bedank.

Die betogings gaan gepaard met geweld. ʼn Vragmotor en ʼn bus is aan die brand gesteek en paaie is met klippe en brandende buitebande versper. Hoewel die polisie vroeër die week daarin kon slaag om die geweld in die gebied onder beheer te bring, het die geweld later weer plek-plek opgevlam.

Fanie du Toit, die VF Plus se provinsiale onderleier in Noordwes, sê die party is bekommerd oor gerugte dat twee persone dood is as gevolg van die voortslepende onluste.

“Alle inwoners van Mafikeng word nou geterroriseer deur ontevredenheid oor Mahomapelo, met paaie na en van die dorp wat gesluit is en sakeondernemings wat hul deure vir die dag gesluit het,” sê hy.

Du Toit sê stappe is reeds gedoen om die veiligheid van studente op die Noordwes-Universiteit se Mafikeng-kampus te verseker waar klasse weens die geweld ook onbepaald afgestel is.

“Die VF Plus is veral bekommerd dat die geweld na die res van die provinsie kan uitbrei weens die hardnekkigheid van Mahumapelo om nie as premier te bedank nie, en ook as gevolg van die ANC se gebrek aan politieke leierskap om van hom ontslae te raak,” sê hy.

Hy meen Suid-Afrika loop die gevaar om ʼn polisiestaat te word met die polisie wat “ontevrede inwoners in toom moet hou terwyl korrupte politici op hoë vlak beskerm word”.

“Mafikeng kan dit nie bekostig dat die ANC se onvermoë om sy leierskap verantwoordelik te hou daartoe lei dat mense in vrees leef en die ekonomie lamgelê word nie.”

Verlede maand het die Valke ʼn klopjag op Mahumapelo se kantoor uitgevoer waartydens daar op verskeie dokumente beslag gelê is wat verband hou met beweerde wanadministrasie, bedrog en korrupsie van sowat R160 miljoen.

Michal Groenewald, die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, het destyds gesê die klopjag hou glo verband met ʼn kontrak wat vir drie jaar tussen die Noordwes-regering en Nepo Data Dynamics aangegaan is wat glo help met die verskaffing van internet- en bemarkingstelsels in die premierskantoor en ander regeringskantore.

Volgens Groenewald is die kontrak aangegaan vir die tydperk van 2016 tot 2019 en nagenoeg R215 miljoen is reeds aan Nepo Data Dynamics oorbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oujongvrou ·

En dan is sisulu kwaad vir die ausies as hulle die mense waarsku. Dit lyk soos oorlog geteisterde land

Selfbeskikking ·

So gaan die land brand, en voor als verwoes is moet ons ons eie land voor onderhandel met die regering en die buiteland. Dis al volhoubare opsie.

ERF BELASTING ·

Ek wonder of die mense wat so amok maak en betoog teen swak dienslewering se Erf Belasting op datum is.
Almal wat wil betoog moet ‘n OP DATUM Erf Belasting staat voorlê.
Hoe kan jy betoog vir swak dienslewering as jy nie daarvoor betaal nie?

Geen simpatie ·

Ek het GEEN simpatie met diegene wat oor DIENSLEWERING betoog nie. Eerstens vernietig hulle ander onskuldige mense se eiendom sowel as die staat s’n, (waarvoor my belastinggeld betaal). Tweedens betaal MEESTE van hulle nie vir dienste wat hulle ontvang nie, maar dring aan op beters dienste. DERDENS en die belangrikste een, as hulle by die stembus staan stem hulle WEER ANC of EFF ..een of ander radikale groep wat WEER beloftes maak wat hulle nie kan gestand doen nie. So my simpatie met stakers is OP. Meeste wil ons wittes uit die land uit he, so ons gaan vertrek, foeter julle mekaar dan maar op.

marous ·

En kom bestee asb biljoene in beleggings … in brandslange . Bring asseblief net julle eie water.

AJ ·

Die rede waarom sg. ‘proteste’ in SA so geweldadig raak:

1. die rook van brandende bande / voertuie ens ‘ROEP’ die ANC se leiers. Klagtes en petisies werk nie!

2. geen joernalis (papier en elektroniese media) kan brandende bande / voertuie weerstaan nie. Hulle móét fotos neem en publiseer … want dit bring lesers / kykers (GELD)!

3. Ek en jy (die publiek) is ‘sensasie belus’ … ons kyk graag na die bg. sensasionele fotos of videos.

M.a.w geweldadige proteste is eintlik in wese slegs PUBLISITEITSFOEFIES!

Die protesteerders is akteurs … die sg. ‘RENT A CROWD’

En die nuus … is eintlik FAKE NEWS!

En ek en jy (publiek) … wat die Fake News … ‘gebruik’ … is eintlik LEEG en DOM!

As mense vernadering wil hê moet hulle die ANC in die verkiesings UIT STEM!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.