Noordwes-betogings: Nog sewe vas

Betogings in Coligny en Lichtenburg in Noordwes (April 2017). Foto: Twitter via @Abramjee

Nog sewe mense is in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld tydens gewelddadige betogings by Lichtenburg in Noordwes.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê vier mans en drie vroue is Maandagaand in Blydeville buite Lichtenburg in hegtenis geneem. Altesaam 21 verdagtes is tot dusver in verband met die betogings in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig 14 mense is Vrydag in hegtenis geneem nadat drie vragmotors aan die brand gesteek is en agt ander voertuie met klippe bestook is. Die verdagtes het Maandag in die Lichtenburg-landdroshof verskyn en die saak is tot 2 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

ʼn Polisie-njala is Maandagmiddag buite Lichtenburg deur betogers aan die brand gesteek en talle winkels in Coligny is deur betogers geplunder. Betogers het ook polisiebeamptes met klippe bestook terwyl hulle sinkplate gebruik het om die rubberkoeëls te keer wat op hulle afgevuur is.

Die geweld het Dinsdagoggend weer in Coligny opgevlam toe daar volgens berigte nog ʼn vragmotor aan die brand gesteek is.

Mokgwabone het gesê die polisie monitor die betogings in Blydeville, Coligny en Itsoseng. Geen inhegtenisnemings is nog in Coligny of Itsoseng gemaak nie.

Die polisie kon nie onmiddellik bevestig wanneer die sewe verdagtes, wat gisteraand in hegtenis geneem is, in die hof sal verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willie ·

Nou wonder ek wat presies gaan met die 7 gebeur. Hof toe en dan? Wie betaal vir al die lawaai?

D C ·

Maroela, julle moet op toneel gaan
Kyk in coliny. Hulle brand nou huise en karre in die dorp.

Johann ·

‘n Paar huise is ook vanmiddag in Coligny aan die brand gesteek, dit volgens die internet.

Pitbull ·

Ja ou Willie ek stem. Die SAP speel te veel met die kriminele, dis hoekom wet en orde ‘n grap is in S.A. Satan sit aan die spits van hierdie oproerigheid en hits die hordes aan! Die een wie die Here nie van naby ken in hierdie dae nie, is in baie groot gevaar!

Bruno Stef ·

My oorlede Ma het vir my kleintyd al gese as jy na jou handpalm kyk sal jy sien dat daar n W is en omgekeerd n M is dit beteken Werk Mens.Dit is min moeite om te plunder en te roof as dit n ander se eiendom is maar dit beteken n “Free Ride” veral as dit aangevuur word deur Groep Bravade en die alreeds geroofde drank.

Mm ·

Plaasjapie oom Angus is n gesalfde van die Here so hou op om hom in te bring. Begin bid en vra die Here om jou oe oop te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.