Noordwes-burgemeester se voorverhoor begin eersdaags

Kgotso Khumalo het uit sy pos as burgemeester bedank. (Foto: JB Marks-munisipaliteit/Facebook)

Die voorverhoor van die uitvoerende burgemeester en die direkteur van die JB Marks-munisipaliteit in Noordwes, Kgotso Khumalo (52), sal volgende Vrydag in die streekshof in Potchefstroom begin. Khumalo staan saam met Cyril Hendry (54), die direkteur van die munisipaliteit, en Mohau Shuping, opsigter vir sportfasiliteite by die munisipaliteit, tereg op agt aanklagte van bedrog en diefstal.

Die JB Marks-munisipaliteit bedien die dorpe Potchefstroom en Ventersdorp.

Maroela Media het berig Khumalo, Hendry en Shuping is verlede jaar in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings spruit uit ondersoeke wat deur die Valke na ʼn trustrekening gedoen is, waarin ongeveer R5 miljoen wat vir die JB Marks-munisipaliteit bedoel was, geplaas is. Die geld is egter nooit aan die ouditeur-generaal verklaar nie.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat verskeie betalings glo uit die trustrekening in die verdagtes se persoonlike bankrekeninge gedoen is. Daar word beweer dat daar ʼn wanvoorstelling van die geld in die trustrekening was sodat dit sou lyk asof dit gebruik word om dienste te betaal wat aan die munisipaliteit gelewer is, terwyl fakture na bewering vervals is. In sommige gevalle is daar glo geld in diensverskaffers se rekeninge betaal vir dienste wat nooit gelewer is nie en sou die verdagtes dan glo die geld by die diensverskaffers kry.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê die president van die streekhof het reeds ʼn landdros aangestel wat die voorverhoor sal hanteer. Hy sê die staat is ook gereed om met die verhoor te begin en hoop dat dit binne ʼn redelike tydperk afgehandel sal wees.

Die drie verdagtes is tans op waarskuwing uit en word verbied om met enige van die staatsgetuies in verbinding te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hardekwas ·

Haai nooit! N skelm burgemeester. Wie sou dit nou kon raai?

SjN ·

Op waarskuwing uit, sal seker hul net daaroor aanspreek, klomp narre.

Baardman ·

Nog miljoene rande se belasting geld wat vir ewigheid gespandeer gaan word

JM ·

As hulle in alle opsigte so slim was, as om korrupsie te pleeg. Hoe lank gaan ons land nog met al die diewe opgeskeep sit? Vir sommiges is korrup wees, tweede natuur. SIEK!!

Dup ·

Die skelms en hulle skelmstreke is amper erger as die Covid virus.Ten minste is daar nou n inenting teen die virus maar die skelmstreke sal nooit ophou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.