Noordwes-departement sê oor voëlgriep

Kwarteleiers (Foto: mustafaunlu09, Pixabay)

Boere in dele van Noordwes word gemaan om uiters versigtig te wees nadat voëlgriep (HPAI) in dele van dié provinsie uitgebreek het. Twee van die uitbrekings is in Madibeng (Bojanala-platinumdistrik) en een in Maquassie Hills.

Een van die uitbrekings behels kwartels wat uitgebroei, grootgemaak en geslag is op die plaas. Die tweede uitbreking in Madibeng is onder wilde eende wat as troeteldiere aangehou is. Die twee uitbrekings is binne ʼn omgewing van 10 km van mekaar. Die derde uitbreking is opgemerk op ʼn semi-handelsplaas in Maquassie Hills.

Spanne van die departement van landelike, omgewings- en landbouontwikkeling hanteer die geaffekteerde huishoudings om die verspreiding van die siekte te beperk. Die spanne sal monsters van die oorblywende voëls neem waar al die voëls nie van kant gemaak is nie, het Emelda Setlhako, woordvoerder van die departement gesê.

Nóg ʼn span beamptes is ontplooi om inligting te versamel van omliggende plase binne ʼn 3 km radius om die omvang van die verspreiding te bepaal.

“Die betrokke plase en kleinhoewes is onder kwarantyn geplaas en die voorwaardes van die kwarantyn is aan die eienaars verduidelik. Die eienaars is in kennis gestel van bio-veiligheidsmaatreëls wat geneem moet word om te voorkom dat die virus deur middel van mense of voëlmis versprei.

“Hulle is ook in kennis gestel om die voëlhokke met nette te beveilig om te voorkom dat wilde voëls die hokke kan betree. Aangesien wilde voëls gewoonlik huishoudelike hokke teiken vir kos wat dalk oorgebly het, word die boere ook aangeraai om kos te verwyder as alles nie opgeëet is nie,” het Setlhako bygevoeg.

Voëlgriep is ʼn virus wat huishoudelike en wilde voëls besmet. Wilde voëls is gewoonlik meer weerstandig teen die virus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

My pa het ook ‘n pluimveeboerdery in 1961 begin en in daardie jare was Newcastle die ENIGSTE siekte wat ernstige gevolge gehad het. Wilde voëls soos mossies, duiwe en swaeltjies het ELKE dag in ons hoenderhokke kos wat op die vloer val kom oppik en daar was NOOIT NOOIT eers sprake van voëlgriep nie!!

Ek dink al hierdie peste het ons land binnegekom met al hierdie ingevoerde pluimvee – al was dit geslag!!

Wonder ·

O genade, weet die departement darem iets van voël griep?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.