Noordwes-departemente sonder krag weens wanbetaling – DA

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Aantal Noordwes- provinsiale departemente se kantore, onder wie die premier sʼn, sit nou sonder krag nadat hulle glo versuim het om hul Eskom-rekeninge te betaal.

Volgens die DA is onder meer die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (COGHSTA), asook die provinsiale tesourie en die departement van openbare werke se kragtoevoer ontkoppel.

“Die ontkoppeling van die kragtoevoer na hierdie staatsdepartemente het verskeie diensleweringsprogramme tot stilstand gebring,” sê Freddy Sonakile, DA-LP in Noordwes.

Volgens Sonakile het die DA by verskeie geleenthede probeer om met die Noordwes-premier, Bushy Maape, en ander departementshoofde te vergader, maar tot dusver sonder welslae.

“Dit is skandalig dat die provinsiale regering nie basiese goed kan doen soos om hul rekeninge betyds te betaal nie,” sê hy.

Luidens berigte het van die departemente egter hul rekeninge betaal en wag hulle nou op Eskom om hul kragtoevoer te herstel.

Nietemin het die DA die voorsitter van die portefeuljekomitee vir COGHSTA in die wetgewer, Aaron Motswana, versoek om ʼn dringende komiteevergadering met die premier en ander departementshoofde te hou.

“Ons wil van die premies eis om aan die inwoners van Noordwes verantwoording te doen oor die diensleweringstilstand wat hierdie voorval tot gevolg het,” sê Sonakile.

Volgens die DA sukkel verskeie munisipaliteite in Noordwes om hul skuld aan Eskom af te betaal.

“Die kwessie dat dieselfde met die provinsiale regering gebeur, is ʼn aanduiding dat die provinsie eenvoudig nie doeltreffend bestuur word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.