Noordwes: Dít sal Mokgoro se sukses bepaal, meen DA

Job Mokgoro (Foto: ANA)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het dié week gesê die sukses van die nuwe Noordwes-premier se eerste 100 dae in sy amp sal onder meer bepaal word deur hoe vinnig hy vertroue in die provinsiale gesondheidsisteem kan herstel.

Job Mokgoro is verlede week as die nuwe premier van dié sukkelende provinsie verkies.

Joe McGluwa, die DA se provinsiale leier in Noordwes, het tydens ʼn inligtingsessie in Potchefstroom gesê dit is geen verrassing dat Mokgoro deur Luthuli-huis aangewys is om die “belange van die twee opponerende faksies in die provinsie te balanseer” nie.

“Een faksie word gelei deur Cyril Ramaphosa – die swakste ANC-president in die geskiedenis – en die ander faksie word gelei deur ʼn vriend van [oudpres.] Jacob Zuma en die Guptas, Supra Mahumapelo. Daarom sal hy die moeilike werk hê om die mense te lei en nié ʼn faksie nie. Die DA se beleid rakende bestuur is dat mense áltyd eerste moet kom,” het hy gesê.

McGluwa het gesê benewens die feit dat Mokgoro die reusetaak op hande het om die gebroke gesondheidsisteem in die provinsie te herstel, sal sy sukses ook gemeet word in werkskepping, veral vir die jeug; misdaadbekamping in die provinsie; die verspreiding van titelaktes vir armes in Noordwes en sy vermoë om korrupsie binne die provinsiale regering ʼn nekslag toe te dien.

McGluwa het die voormalige Noordwes-premier, Supra Mahumapelo, daarvan beskuldig dat die “staatskaping” waaraan Mahumapelo volgens McGluwa skuldig is, gelei het tot die armoede van talle binne die provinsie en ANC-hoës verryk het.

“Mokgoro moet verseker dat hy aktiewe stappe doen om Mahumapelo se korrupte netwerk af te breek as ʼn belangrike eerste poging om die vertroue van die publiek in die regering en in die regering se vermoë om dienste te lewer, te herstel.

“Die ouditeur-generaal het ʼn verskriklike maar eerlike prentjie van die ineenstorting in hierdie provinsie geteken, maar die ANC het dit ten gunste van volgehoue korrupsie geïgnoreer terwyl inwoners van die provinsie daaronder ly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johanna Botha ·

Wel sterkte, wat dit is byna n onbegonne taak wat die man het !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.