Noordwes-onderwys ‘oorbestee’ R6,5m aan maskers

(Argieffoto: Unsplash)

Die onderwysdepartement in Noordwes het R6,5 miljoen meer vir materiaalgesigmaskers betaal as wat hy veronderstel was om te doen.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), sê die eenheid het reeds begin met ʼn siviele regsproses om die kontrak, wat deur ʼn informele verkrygingskomitee van die departement toegeken is, ongeldig en onreëlmatig te laat verklaar en om enige finansiële verliese wat gely is, te herwin.

Gewoonlik sou alle mededingende tenders bo R500 000 wat staatsdepartemente toeken, deur ʼn bodtoekenningkommissie ingevolge bepalings van die nasionale tesourie gedoen word. Die komitee sal dan die aanbevelings van die bodevaluasiekomitee oorweeg en ʼn finale toekenning of aanbeveling doen. Die rekenpligtige amptenaar ken dan die kontrak toe.

Kganyago sê die SOE se ondersoek het onthul dat die departement ʼn informele komitee aangewys het om die aankoop van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) te bestuur. Die komitee is nie ingevolge die tesourie se bepalings saamgestel nie.

“Die SOE-ondersoek na die departement het gewys dat die komitee moontlik finansiële wangedrag gepleeg het deurdat hy versuim het om te verseker dat die verkrygingsbestuursproses billik, gelyk, deursigtig, kostedoeltreffend en mededingend is,” sê Kganyago.

Die ondersoek dui verder daarop dat die komitee namens die departement twee versoeke vir kwotasies vir die verskaffing van 50 000 maskers per kwotasies gerig het. Met die eerste kwotasie is drie diensverskaffers teen ʼn koste van R3,7 miljoen aangewys. Met die tweede kwotasie is vyf diensverskaffers teen ʼn koste van R5,523 miljoen aangewys.

Kganyago sê die departement het die twee kontrakte gebruik om eindelik 400 000 maskers aan te koop – 300 000 meer as waarvoor aanvanklik gevra is.

“Die onreëlmatigheid het beteken dat die departement meer as R9,2 miljoen betaal het vir maskers, pleks van R2,5 miljoen. Die nasionale tesourie se gereguleerde prys vir ʼn lapgesigmasker is R25.”

Die SOE se ondersoek het ook aan die lig gebring dat een van die diensverskaffers aangestel is, al is sy kwotasie ná die afsnydatum ingedien. Die komitee het boonop gevra dat een van die diensverskaffers sy kwotasie verlaag sodat dit onder die drempel van die nasionale tesourie val.

“Dít is die tweede onreëlmatigheid rakende PPE-verkryging wat die SOE in die Noordwes-departement van onderwys blootlê,” sê Kganyago.

Benewens die siviele proses wat reeds van stapel gestuur is, het die SOE ook aanbeveel dat tugstappe teen lede van die informele verkrygingskomitee gedoen word vir die verontagsaming van verkrygingsbestuursprosesse en omdat die departement “blootgestel is aan oorbesteding van meer as R6,5 miljoen in die aanwysing van die diensverskaffers”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Abraham

Hoe is dit moontlik??

Bernard

Ons noem dit sommer bedrog – maar niemand sal aangekla word nie

Kokerboom

Ons is nou “gatvoll”…jammer kraswoord maar daar is GEEN alternatief.. vir die totaal nuttelose hopelose kaders wat skaars hulpbronne hanteer asof dit van bome gepluk word! Identifiseer hulle in medxia en DANK hulle af sonder vergoeding! Die soustrein STOP NOU ASB!!!!!

Michal

iemand ry nou ń Bentley of Range Rover of Maserati of Ferrari of Rolls Roys of 10 Land Cruisers

Willem

Hoekom is ek nie surprise nie?