Noordwes-premier kap na Motsoaledi oor Gupta-uitlatings

Supra Mahumapelo, die premier van Noordwes. Argieffoto: http://premier.nwpg.gov.za

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het Vrydagaand in ʼn verklaring na Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gekap ná Motsoaledi se uitlatings dat die Gupta-familie die Mediosa-kliniek in dié provinsie as ʼn kitsbankkaart gebruik om geld van die gesondheidsdepartement te onttrek.

Motsoaledi het Vrydag die mobiele Mediosa-kliniek besoek wat glo reeds R30 miljoen se finansiering van die Noordwes- departement van gesondheid ontvang het om dienste te verskaf.

Hy het onder meer geëis dat die regering sy kontrak met die kliniek gekanselleer. Oor die Gupta-bande met die kliniek het hy gesê: “Ek dink nie dit sal verkeerd wees om die kliniek as ʼn kitsbankkaart te beskryf wat die Guptas gebruik het om geld van die departement van gesondheid te onttrek nie. Ek kan dit ongelukkig op geen ander wyse beskryf nie.”

Mahumapelo het in sy reaksie op die uitlatings gesê Motsoaledi het baie “betreurenswaardige uitlatings” gemaak.

Mahumapelo het gesê hy het in sy provinsiale rede aangekondig dat ʼn ondersoek na die plaaslike departement van gesondheid van stapel gestuur word wat die Mediosa-kliniek en die finansiering daarvan insluit.

“As die minister eers met ons gepraat het, sou ons hom nie gekeer om te doen wat dit ook al is wat hy wou doen nie. Ons sou hom ingelig het oor die vordering wat ons in hierdie verband maak,” het hy gesê.

“Aangesien Motsoaledi die populistiese aanslag gekies het, wil ons graag met die president by die ANC se hoofkantoor by Luthuli-huis vergader in hierdie verband,” het hy gesê.

Werknemers by die kliniek het nie in Februarie salarisse ontvang nie. Die Valke het vroeër bevestig dat hulle ondersoek na die bedrywighede by die kliniek ingestel het weens die bande met die omstrede Gupta-familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adam ·

Die hele regering funksinoeer as n kitsbank Kry net n kontrank vir enigiets en jy is n miljoener sonder om iets te doen of te lewer

Piet ·

Ek dink die premier probeer sy pos beskerm met sy helse salaris. Dis dan nog sonder sy kantlyn inkomste …..

PJC ·

Hierdie premier het al so baie skade in die land aangerig met sy rassisme dat dit gaaf sal wees as iemand hom ń bietjie kan vasvat. Ek glo as daar behoorlik ondersoek ingestel word sal daar vrek baie geraamtes uitspring wat hom kan sink.

Luister ·

By hoeveel ander instansies, ens., het die Guptas nog hul taai vingers in? Hulle gebruik die hele land as hul kitsbank!

Lolla ·

Ag Supra, bedank liewers. Net die feit dat jy reageer, se dat daar fokus op jou geplaas moet word en dat jy skuldig is op iets of het jy n gewete wat jou pla?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.