Noordwes premier ontken naamsverandering

Noordwes Foto: Ali Conquerre, Pinterest

Noordwes Foto: Ali Conquerre, Pinterest

Die kantoor van die Noordwes-premier, Supra Mahumapelo, het Maandag bewerings deur AfriForum dat die provinsie se naam na Bokone Bophirima verander is, ontken.

Sam Mokaila, woordvoerder van die premier, het gesê die naam beteken bloot Noordwes in Setswana, ʼn taal wat deur byna ʼn driekwart van die provinsie se inwoners gepraat word. “Bokone Bophirima is die direkte Setswana-weergawe van Noordwes en dit is erkenning van een van Suid-Afrika se amptelike tale wat deur meer as 70% van die mense in hierdie provinsie gepraat word,” het Mokaila gesê.

“Hierdie is opsetlik verkeerdelike inligting wat AfriForum gebruik om die publiek te mislei.”

Hy het gesê die provinsiale regering het by beide die provinsiale en nasionale geografiese naamkomitees aansoek gedoen om die naam van die provinsie na Moses Kotane te verander, ter ere van SA Kommunistiese Party en struggle veteraan. Die voorstel, wat in April gemaak is, word deur politieke opposisiepartye teengestaan.

Mokaile het gesê ʼn mosie oor die voorgestelde naamsverandering is in die provinsiale vergadering voorgelê, waar daar ʼn tweederdesmeerderheid benodig word om dit goed te keur en voorleggings van die publiek aangevra sal word.

“Lede van die publiek en alle liggame wat in hierdie saak belangstel, insluitende AfriForum, sal binnekort inligting oor die openbare deelname prosesse ontvang.”

Intussen het AfriForum se Marcus Pawson aan Maroela Media gesê die verandering van die provinsie se naam na Bokone Bophirima is bloot deel van ʼn politieke spel om ondersteuning te wen in aanloop tot die 2016-verkiesing.

“Ons weet die provinsie is in ʼn verknorsing ten opsigte van dienslewering by byna al sy munisipaliteite. Daar is ʼn groter prentjie rondom die redes agter die naamsverandering as net ʼn blote vertaling van die provinsie se naam. As opposisiepartye en ander instansies nie nou al weerstand bied teen hierdie lukrake vertaling van die naam nie, gaan die ANC net voortgaan met die amptelike naamsverandering ten spyte van die argumente daarteen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Die provinsie is in ‘n verknorsing tov dienslewering maar hulle spandeer MILJOENE aan naamsveranderings!!! African National Circus!!!

Peet Schabort ·

Die gras is ook maar lank om daardie Noordwes-bord se foto. Met die eerste veldvuur sal die bord ook beskadig raak en dan seker met die nuwe naampie vervang word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.