Noordwes-premier versoek vrede tydens verkiesing

Noordwes-premier Job Mokgoro (bruin baadjie), Wonderkop se Moeder Theresa, Seipati Mmekwa en Motlalepule Rosho, LUR vir plaaslike regering in Noordwes saam met ʼn koor in Wonderkop, Marikana (Foto: ANA)

Job Mokgoro, premier van Noordwes, het Saterdag ʼn beroep gedoen vir vreedsame verkiesings in Marikana, naby Rustenburg, en die res van die provinsie op 8 Mei.

Dit is Mokgoro se eerste verkiesingsveldtogbesoek aan Marikana. Hy was in Wonderkop, naby Nkaneng- informele nedersetting waar 34 mynwerkers op 16 Augustus 2012 doodgeskiet is tydens ʼn onwettige staking by Lonmin se platinummyn.

“Ons kan nie ontken dat ʼn vreeslike ding in 2012 gebeur het nie. Ons is spesifiek hier om te versoek en seker te maak dat mense volgende week vreedsaam aan die verkiesing sal deelneem,” het hy gesê.

Marikana is sedert 2012 plofbaar en plaaslike inwoners in Wonderkop sê hulle leef in vrees vir hul bure van Nkaneng. “Mens kan nie net vrylik rondbeweeg nie. Daar is ʼn gevaar dat jou huis aan die brand gesteek kan word. Mense word dood aangetref. Ons leef in vrees,” het ʼn vrou, wat nie haar naam bekend wou maak nie uit vrees vir haar lewe, gesê.

Politici het grootliks Marikana vermy, en slegs die DA-leier Mmusi Maimane en sy UDM-eweknie Bantu Holomisa het Marikana besoek tydens hul verkiesingsveldtogte.

Die Noordwes-provinsie en KwaZulu-Natal word beskryf as hoërisikogebiede vir die verkiesing. Altesaam 79 moontlike konflikgebiede is in Noordwes geïdentifiseer: 30 in die Bojanala-distrik, 22 in Ngaka Modiri Molema, 17 in Dr Ruth Segomotsi Mompati en 10 in Dr Kenneth Kaunda.

Mokgoro het gesê verskeie staatsdepartemente het nie gedoen wat van hulle verwag word nie, wat betref dienslewering aan gemeenskappe. “Die president [Cyril Ramaphosa] neem die leiding om seker te maak dat dit iets van die verlede is. Julle het gesien watter stappe hy gedoen het – verskeie departemente, staatsbeheerde ondernemings en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is oral te sien. Ek het ook stappe gedoen waar ek duidelike bewyse gehad het van wanbestuur. Ons erken dat ons nie regverdig was teenoor die mense in die provinsie nie. Ons het dit in die publiek gesê, ons president het dit erken, maar ons het ook publiek onderneem om hierdie foute reg te stel en seker te maak ons doen die regte ding.

As deel van sy besoek aan Marikana, het Mokgoro ʼn sokkertoernooi gereël by die Wonderkop-stadion. Dié toernooi sal jaarliks plaasvind en het ten doel om maatskaplike samewerking en nasiebou deur sport in Marikana te bevorder.

Hy het R1 miljoen aan Seipati Mmekwa oorhandig, wat ʼn sopkombuis in Wonderkop bestuur. Haar sopkombuis het hoofopskrifte gehaal tydens die vyf maande lange staking by platinummyne in 2014.

Die geld sal gebruik word om ʼn gemeenskaplike voeding- en ontwikkelingsentrum te bou waar inwoners warm etes sal ontvang en die geleentheid om hul vaardighede te ontwikkel. Mokgoro het gesê die regering is nie net eenmalig by die projek betrokke nie – dit sal ʼn voortgesette vennootskap wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik UAE ·

Belasting geld om anc se verkiesings foefie te befonds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.