Noordwes-premier vra kalmte na nóg ʼn moord

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het Dinsdag die inwoners in Rustenburg se mynbougebiede versoek om kalm te bly te midde van verhoogde spanning nadat nóg ʼn lid van die vakbond Amcu vermoor is.

“Ons kan nie voortgaan om mekaar só dood te maak nie. Ons moet agting vir mense se lewens hê en ons moet nooit ophou om met mekaar te praat nie, maak nie saak hoe moeilik die situasie is nie,” het Mahumapelo gesê. “Moord sal nooit die uitdagings oplos nie. Ons betuig ons meegevoel met die familie in hierdie moeilike tyd.”

Mvelisi Biyela, gesondheid- en veiligheidsbeampte van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) is Vrydagaand in Wonderkop voor sy vrou en sesjarige kind doodgeskiet. Hy is glo agter in sy kop en in sy rug geskiet.

Lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat die 35-jarige man by die Lonmin-familiedorp in Wonderkop doodgeskiet is. “Twee verdagtes het van die toneel gevlug. Die ondersoek duur voort. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het Myburgh bygevoeg.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het gesê Biyela se moord kom neer op ʼn oorlogverklaring teen Amcu. “Ons gaan nie met ons arms gevou staan terwyl ons lede vermoor word nie. Amcu heg waarde aan die lewens van sy lede, van alle platinumwerkers en alle mynwerkers. Indien iemand seerkry, kry almal seer,” het hy gesê. “Ons sal nie soos vlieë doodgemaak word nie. Ons sal terugbaklei en ons sal hard baklei. Ons wil nie krokodiltrane van die regering, die bestuur of die media hê nie.”

Hy het gesê minstens vyf Amcu-leiers is die afgelope paar maande dood. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Mpeke Nonyana (49), taktesourier van Amcu by Impala Platinum se nommer 6-skag is op 12 September doodgeskiet. Hy is by die vakbond se kantoor geskiet. Mohahu Daniel Maseko (35), lid van Amcu, is op 17 September by Luka doodgeskiet toe hy op pad was huis toe van Impala-platinummyn af. Nóg ʼn Amcu-lid is op dieselfde dag in die been geskiet en is in ʼn hospitaal opgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

willie ·

Maar boere kan maar vermoor word en jy rep nie ñ woord nie!

Cherokee ·

O, waar’t jy gesien dat boere tot kalmte gemaan moet word? In Parys? Elders? Blankes hanteer dit wat gebeur tè kalm.

Hanna ·

En wat van ons boere mnr Supra? Of is dit maar n kwessie van “too bad”? Jy maak n ophef oor n handjievol vakbondmense wat vermoor word terwyl ons plaasgrond rooi van onskuldige bloed is… Wat van ons boere mnr Supra? Wat van ons boere?

Boet Fasie ·

Is vakbondlede belangriker as die boere wat weekliks vermoor word Mnr Supra Mahumapelo. Hoekom het jy nog nooit ‘n woord gerep oor hierdie sinnelose moorde teen blanke afrikaners nie, is hulle nie ook mense en werkgewers in die land nie. SKANDE

al ·

Supra raak net betrokke by ñ moordsaak wanneer dit sy voorkeur dra. Hy moet pasop dat karma hom nie aan die bas hap nie.

langtoon ·

Lees mnr Joseph Mathunjwa se deklarasie!
Miskien is cherokee reg en is ons , wat moorde op boere betref, te sag!
Suphra gee duidelik nie n duit om vir sy provinsie se boere nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.