Noordwes: Regering gryp in

Nomvula-mokonyane

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie en kabinetswoordvoerder. Foto: ANA.

Die kabinet het besluit om in te gryp in die geweldgeteisterde Noordwes-provinsie en sommige van die Mahumapelo-regering se magte oor te neem.

Voorlopig sal die sentrale regering slegs die provinsiale gesondheidsdepartement se bestuur oorneem, maar ʼn taakspan ministers sal na die provinsie gestuur word om te sien of ander bestuursfunksies ook oorgeneem moet word.

Die minister van kommunikasie en kabinetswoordvoerder, Nomvula Mokonyane, het vanoggend aan die parlementêre perskorps verslag gedoen oor gister se kabinetsvergadering en gesê die kabinet is oor die algemeen baie bekommerd oor die situasie in Noordwes. Twee ingrypende stappe is dus deur die kabinet aangekondig.

Eerstens is besluit om kragtens artikel 100 (1) (b) van die grondwet die administrasie van Noordwes se gesondheidsdepartement oor te dra aan die nasionale regering. Die doelwit hiervan is vierledig:

* Om vertroue tussen die regering en gesondheidswerkers te herstel;

* om die provinsie te help om dienste op peil te bring;

* om te verseker dat wetsgehoorsaamheid herstel word en

* om die situasie te stabiliseer.

Voorts sal ʼn kabinetstaakspan na Noordwes gestuur word om te besluit of ander provinsiale regeringsmagte ook oorgeneem moet word.

Sy het egter benadruk dat die kabinet nie besluit het om Mahumapelo as premier te verwyder nie. Daardie besluit berus by Noordwes se wetgewer.

Die kabinet was ook baie uitgesproke oor die gedrag van twee mans wat ʼn afbeelding van Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi wat opgehang word, op sosiale media versprei het.

Mokonyane het gesê dit kom neer op haatspraak en die regering sal die twee mans vervolg. Sy het die oortuiging uitgespreek dat sulke gedrag nie meerderheidsteun in die wit gemeenskap het nie, en het gevra dat wit Suid-Afrikaners hulle van die gedrag distansieer.

Sy het ook gewaarsku dat enigeen wat die afbeeldings op sosiale media ondersteunend versprei, ook aangekla kan word.

Ander Suid-Afrikaners wat hulle spoedig in die hof gaan bevind, is diegene wat geïdentifiseer word as aandadig aan die sokkergeweld verlede Sondag in Durban, en lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Demokratiese Republiek van die Kongo wat hulle aan seksuele misdrywe skuldig maak, het Mokonyane gewaarsku.

Die kabinet het ʼn beroep op stakers oor minimumlone en die stakers in die busvervoersektor gedoen om so gou moontlik weer te begin werk.

Die kabinet het ʼn omvattende nuwe wetsontwerp op tabakprodukte goedgekeur en het die publiek en alle belanghebbendes gevra om daarop kommentaar te lewer voordat dit by die parlement ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

humor ·

Waarom in hierdie late uur waarin die land al soveel skade berokken is. Maar nouja darem.

Pierre ·

Ek hoop en vertrou dat dieselfde optrede geneem gaan word teen die EFF lid “Mampuru Mampuru” wat op fb ‘n aksie uitgeroep het om 5 milj blankes uit te moor….

Alida ·

Hoekom wag tot alles verwoes is voor hulle ingryp. Dit moes nooit gebeur het nie. As hulle van die begin af eerlike bekwame mense aangestel het sou dit nie gebeur het nie. Nou kom daar 20 blink swart duur motors aan om te WAT? Dit is belaglik.

TLC ·

Almal praat van #saamstaan# hou jul fb dop as dit eg is dan is hy ons antwoord vir saamstaan of laat ek sê dit is iemand wat n poging aanwend om saam te staan. Ek gaan dit n go gee dalk is hy die persoon wat God vir ons gestuur het . Ek gaan nie naam noem nie en ek sê ook nie doen dit nie Maar ek gaan DIT n try gee

Casper Labuschagne ·

Ek moet van Lesufi verskil. Eerstens is die simbool om ‘n pop op te hang aanvaarbare protes en nie haatspraak of rassisme nie. Dit is ‘n geldige protes teen minderheidsregte wat verontagsaam word en is nie ‘n dreigement nie en het niemand skade aangedoen nie. Dit is Lesufi wat nou die rassekaart speel om te sê dat “Hulle hierdie rassiste se grootouers verslaan het, julle is niks nie.” – die woorde is werklike haatspraak.

Johannes van der Colf ·

Wat van al die baie poppe wat al oor Donald Trump uitgehang is. Dit is nie as rasisties geklasifiseer nie maar as protes aksies.

jaco ·

As die DA wat die Wes-Kaap regeer net 1 millimeter buite ANC-voorskrifte iets sê of doen, kom die ANC-regering in Pretoria dadelik met beskuldigings van rassisme en apartheid en dreig hulle dadelik om die Wes-Kaap-regering onder administrasie te plaas. So dis nogal ironies dat die eerste provinsie wat die ANC nou wel onder administrasie plaas, nogal deur hulleself regeer is tot nou toe.

Jef ·

n Taakspan van ministers word na die provinsie gestuur, uit hoeveel mense bestaan so taakspan, wil my voorkom dat daar 10 man nodig is met n gesamenlike breinkapasiteit van een geleerde man, dus nege man doen niks want hulle weet nie hoe nie en een man sal probeer om iets te doen en al vergeet het wat om te doen waarvoor hy geleer het.

PJC ·

Dit is duidelik dat die ANC baie versigtig is vir hierdie premier wat daarop dui hoe verdeeld die ANC op die oomblik is.

CWS ·

Kan maar net se ai,ai,ai….maar Glo aan CR….sal stadig maar seker sy stempel afdruk…..ek bly in SA so ook my kinders en familie en vriende….en ek Glo in God……

Manie ·

As die aksie van die regering gaan wees gemeet aan die minister wat uiters onbekwaam was in waterwese gaan daar niks gebeur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.