Noordwes-regering ontken aankoop van straler

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes Foto: premier.nwpg.gov.za

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes Foto: premier.nwpg.gov.za

ʼn Hooggeplaaste beampte van die Noordwes provinsiale regering het Woensdag ontken die regering is besig om ʼn straler te koop.

Dr. Lydia Keneilwe Sebego, direkteur-generaal, het gesê die uitvoerende raad het geen besluit geneem om ʼn vliegtuig te koop nie. Volgens Sebego is die moontlikheid om ʼn vliegtuig te koop, verlede maand tydens ‘n vergadering van die provinsiale uitvoerende raad geopper, toe die verskeie uitdagings van die bestaande vlugroetes tussen Mahikeng en die OR Tambo-lughawe bespreek is.

“SA Express bedien tans hierdie roete, wat swaar deur die provinsiale regering gesubsidieer word. Tydens ons gesprek om die uitdagings te hanteer, het die raad baie vrae geopper, onder meer of die huidige reisreëlings die Noordwes-regering effektief bedien,” het Sebego gesê.

Sy het gesê die raad het besluit om ʼn kostevoordeel-analise te laat doen om te vergelyk wat dit die regering sal kos om sy eie vliegtuig te besit in vergelyk met die subsidies wat tans aan SA Express betaal word.

Die provinsiale vervoeragentskap, North West Transport Investment, het die departement van gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur opdrag gegee om die analise te doen. “Hierdie koste-analise is nie dieselfde as om ʼn staatsvliegtuig te verkry of aan te koop nie. Koerantberigte wat dus aandui die besluit is geneem om ʼn vliegtuig te koop, is nie waar nie. Geen uitvoerende raadsbesluit is geneem om ʼn vliegtuig te koop nie.”

Die DA het Sondag gesê Supra Mahumapelo, premier van die Noordwes, moet die “belaglike plan, om vir homself ʼn luukse vliegtuig met openbare geld te koop”, laat vaar. “In ʼn provinsie met die hoogste werkloosheidsyfer in Suid-Afrika, ʼn skokkende 44,6%, is dit doodgewoon gewetenloos van Supra om homself eerste te stel en gereed te maak om ʼn multi-miljoen rand se straler te koop, eerder as om die geld te bestee daaraan om werksgeleenthede te skep,” het Joe McGluwa, provinsiale leier van die DA, gesê.

“Hy moet kies om liewer die groei van die Mahikeng-lughawe te ondersteun, wat tot voordeel van almal sal wees en beter verbindings vir ons provinsie sal skep vir sake en beleggings, toerisme en handel. Ons provinsie het die verbindings van ʼn meer toeganklike Mahikeng-lughawe nodig, nie ʼn luukse straler vir ANC-hooggeplaastes nie.”

Sebego het teruggekap en gesê die ware rede vir ʼn koste-analise is versuur deur sogenaamde regeringsbronne, wat die saak heeltemal verdraai het om die premier uit te beeld as ʼn oordadige leier wat die vliegtuig vir sy eie persoonlike bevrediging wil hê.

“Die regering van Bokone Bophirima [Noordwes] word gelei deur ʼn premier wat ʼn voorbeeld stel om koste te bespaar en reeds baie gedoen het om te wys hy is ernstig daaroor. Premier Mahumapelo bly byvoorbeeld in sy eie private huis, eerder as ʼn staatshuis, om die provinsiale regering geld te bespaar,” het sy gesê.

Sy het gesê Mahumapelo het ook sy eie geld gebruik om ʼn veiligheidswaghuisie op sy perseel te laat bou, ten spyte daarvan dat die staat aangebied het om daarvoor te betaal.

“Dit was weereens premier Mahumapelo wat ʼn voorbeeld gestel het deur in te stem dat amptelike voertuie nie meer as R600 000 mag kos nie, minder as wat in die ministeriële handboek voorgeskryf word. Hy gebruik self voertuie wat deur twee van sy voorgangers gebruik is. Hierdie motors het al meer as 120 000km afgelê.”

Seshego het gesê indien die koste-analise wel bevind dat dit goedkoper sal wees vir die regering om sy eie vliegtuig te koop, sal die vliegtuig gekoop word vir kommersiële gebruik en nie die eksklusiewe gebruik van die premier en sy uitvoerende raadslede nie. “As die indruk geskep is ʼn vliegtuig gaan gekoop word vir uitsluitlike gebruik deur die premier en sy raad, is dit baie jammer,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jan maak n plan ·

Ons moet net onthou dat om te gaan uiteet vanaf Mafikeng in JHB kos baie geld. ‘n Jet sal vinnigr wees. Daar melk oons alweer die sous trein.

LS ·

Ongelooflik baie mense sukkel om ‘n bord kos op hulle tafels te sit, baie ander kan dit nie eens doen nie, maar ja, as ‘n vliegtuig dan nou gekoop moet word, WHY NOT ???

MikeT ·

Ek verstaan daar is straler beskikbaar… SA Airforce One … word mos nie tans gebruik nie want Nommer 1 is bang die ding val … of so iets

CHRISTA ·

Dis omdat hulle so ‘n fancy titel van ‘premier’ gegee is, dat hulle dink hulle moet almal privaat vliegtuie hê. In die verlede van die hoofde van die provinsies Provinsiale Administrateurs genome (dan nie?)!!! In die verlede het ons EEN premier gehad en hy was die hele LAND se premier!!!

vytjie ·

DAAI premier se ouers het die moeite geag om per donkiekar alle moontlik draaie te maak. Van inkopies tot kerk toe gaan. Oppas om te HOOG te vlieg.

popeye ·

Wie is Noord Wes Regering om kommentaar op soiets kleinlik te lewer bo Luthuli se huis? Hulle bedoel seker ‘n radio beheerde vliegtuigie vir die premier se vermaak!

Hewitt ·

En dit in ‘n provinsie waar die meerderheid van die stadsrade in so ‘n gemors is, dat hulle agterstallig is met rekenings by Eskom en honderde ander dienste-verskaffers. Gaan my verstand te bowe, dat die klomp nie enige skaamte of verstand het nie. Kry eerder al die plaaslike munisipaliteite uit die skuld uit, en hou op skep vir eie gewin.

Cecilia van Rooyen ·

…….. en intussen word die dorpe in Noordwes meer vervalle en word die dienslewering net swakker……………………. hy het nie ‘n idee van prioriteite nie.

LB S ·

Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie. Wie dink julle lei julle om die bos? Beslis nie die DA nie en beslis ook nie ‘n deel van die publiek nie!

padlangs ·

Kan hulle maar nie net ry nie? Wat is verkeerd met padvervoer. Dit is sooooo naby aanmekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.