Noordwes-sindikaat pers boere glo af; vergiftig vee

Goosen se vergiftigde beeste word in ʼn gat gestoot om verbrand te word. (Foto: Verskaf)

Boere in die Bray-omgewing, in die Kagisano Molopo distriksmunisipaliteit in Noordwes word al vir meer as ʼn dekade deur ʼn gewetenlose veediefstalsindikaat geteister wat klaarblyklik sy invloed tot hoog op in die polisie laat geld.

Die dorpie Bray is geweldig afgesonder en is 300 km noord van Kuruman teen die Botswana-grens geleë. Die afgelope naweek is hierdie skrikbewind op die spits gedryf toe 33 van ʼn jong boer, Ockert Goosen, se beeste vergiftig is. Dit het gebeur kort nadat sy pa, Ockey die vermeende sindikaatleier gebel en gevra het om op te hou om sy seun se beeste te steel.

Die vermeende sindikaatleier is aan die gemeenskap bekend en is al talle kere op beeldmateriaal geïdentifiseer, wat deur verskeie veiligheidskameras op plase en langs paaie vasgelê is.

Ockert het aan Maroela Media gesê daar is twee weke gelede agt van sy kalwers gesteel, waarna die vermeende leier se voertuig duidelik op kameras vasgevang is. Pa en seun is na die polisiestasie op Bray om ʼn saak aanhangig te maak, maar die beamptes aan diens het glo geweier. Daar is eers aan die boer se versoek gehoor gegee toe hulle gedreig het om ʼn video van die petalje te neem.

Kort daarna het die vermeende sindikaatleier vir Ockey gekontak en hom met geweld gedreig en aangevoer dat hy die res van sy seun se beeste ook sal steel en die ander sal vergiftig.

Skaars ʼn paar dae ná die voorval is daar by nog ʼn boer beeste gesteel en dieselfde verdagte is weer op die kameras vasgevang.

 

Die toneel wat Ockert Goosen Sondagoggend in die gesig gestaar het. Hy moes skuld aangaan om die beeste te koop en die karkasse verbrand om te verhoed dat die gif verder versprei. (Video: Verskaf)

 

Saterdag is die vermeende leier se bakkie weer op die kameras geëien en daar is alarm op die plaaslike sekuriteitsgroep gemaak. Daar was egter nie veel reaksie nie, klaarblyklik uit vrees vir vergelding. Die jong boer sê hy en ʼn vriend het na die beesplaas uitgejaag wat ongeveer 80 km ver is, om te probeer verhoed dat hy verdere verliese sou lei. ʼn Bakkie is in die pad gewaar en is agterna gesit.

“Ons het ʼn afstand van ongeveer 300 m gehandhaaf, want ons kon nie enige aanduidings van diefstal sien nie. Ná ʼn lang nag van op en af ry en agter mekaar aan ry tot 04:00 het ons geglo ons het die diefstal gekeer.”

Daar is wel niks gesteel nie, maar Ockert het Sondagoggend op 33 dooie beeste afgekom wat vergiftig is deur gif wat in ʼn waterkrip gegooi is. Die misdadiger het vermoedelik mense deur die nag afgelaai om dié intimidasiedaad te pleeg.

Daar moes ook ʼn klomp duiwe en selfs ʼn uil uit die krip gehaal word wat almal gevrek het.

Wesley, Sevenster, ʼn vriend, sê hierdie misdadiger weet wat hy doen. “Jy kan op die kameras sien dat dié leier se bakkie se onderstel gelig en versterk is en sodra hy agterkom hy word agtervolg, jaag hy net eenvoudig weg. Ek het een keer gemeet dat hy ongeveer 140 km/h gery het, en dit op een van ons grondpaaie wat baie sleg is.”

Sevenster het agt saaknommers van aanklagte teen die vermeende sindikaatleier wat vanaf Augustus verlede jaar strek, vir Maroela Media aangestuur, waarvan daar nog geen resultate gesien is nie. Daar is selfs ʼn moordsaak teen die vermeende leier aanhangig gemaak waarvan daar ook niks gekom het nie. Hy sê dit is ʼn oop geheim dat selfs kommersiële boere al geld aan dié misdadiger oorbetaal het nadat hy gedreig het om hul vee te steel.

“Toe ek op die beeste afkom wat vrek is of besig was om te vrek, was ek tot in my wese geskok,” sê Ockert. “Ek is baie lief vir my diere en het ʼn passie vir my boerdery wat die grootste motivering in my lewe is. Boonop gaan hierdie ʼn geweldige skuldlas op my laat.”

 

Sy koeie se karkasse lê besaai oor een van Ockert Goosen se beeskampe. (Foto: Verskaf)

 

Altesame 33 van sy koeie, almal Bonsmara/Beefmaster-kruisings, het gevrek, waarvan sommige dragtig was en ander kalfies gehad het. Elf kalwers het ook gevrek en 24 kalwers is wees gelaat. Die kalwers moet nou met die hand groot gemaak word.

Toe die Goosens Sondag weer by Bray-polisiestasie opdaag om die saak oor die vergiftigde beeste aan te meld, het hulle voor dooiemansdeur te staan gekom.

Die DA in Noordwes sê hy vermoed ook dat dié sindikaat sy invloed in die plaaslike polisiestasie laat geld.

Dié politieke party het intussen ʼn brief aan die nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Fannie Masemola, en die minister van polisie, Bheki Cele, geskryf om die dringende mobilisering van ʼn spesiale taakspan te versoek om dié veediefstalsindikaat wat regdeur die Kagisano Molopo Distriksmunisipaliteit bedrywig is, te ondersoek.

“Die DA verwag dat genl. Masemola, onmiddellik op ons versoek sal reageer om te verhoed dat die situasie verder eskaleer en om die lewens, lewensbestaan en eiendom van hierdie gemeenskap te beskerm,” sê Carin Visser, DA kiesafdelingshoof van die Kagiso Molopo- munisipaliteit.

“Die polisie behoort ook bykomende eenhede te ontplooi om sigbaarheid rondom geteikende plase en gemeenskappe te verbeter. Daar moet ook ʼn evaluering gedoen word op individue wat doodsdreigemente ontvang het, sodat bykomende beskerming aan hulle beskikbaar gestel kan word.

“Dit is onaanvaarbaar dat boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe misdaad op hul eie moet beveg sonder die ondersteuning van die polisie en die provinsiale en nasionale regering in Noordwes. Dit is onaanvaarbaar dat landelike gemeenskappe, boere, plaaswerkers en hul gesinne op hierdie wyse deur georganiseerde misdaad geterroriseer word, terwyl hulle ʼn strawwe klimaat, beurtkrag, droogte, vloede, vernietigende veldbrande, hoë insetkoste en ʼn swak ekonomiese vooruitsig moet verduur om voedsel vir Suid-Afrikaners te produseer,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Pietertjie ·

Welkom in Azania. Dis ‘n wonderwerk dat die boere nog nie die Reg in eie hande geneem het nie: selfs die “polisie” se optrede is krimineel.

Michael ·

Wanneer iemand jou elke dag ‘n klap gee en jy aanvaar dit gaan hy jou elke dag ‘n klip gee maar Wanneer jy hom terug kaap gaan hy twee keer dink voor hy jou weer klap.

Frank ·

Dis verskriklik! En die video is hartverskeurend. Hoekom word die goed nou eers rugbaar?

Republikein in die Wes Kaap ·

Nee wat, Mzanizibabwe het sy glans reeds in 1990 finaal verloor. In sekere streke is geen hoop nie.

Danie ·

My mens vergeet van enige polisiehulp en voorkomende optredes pas jou goed self op of kry van ons mense om jou te help.Ek voel jou pyn so neem self stappe om n herhaling te voorkom.

Skappie ·

Ek wil sommer saam met hierdie boer huil. Hoe kan ‘n mens dit aan ‘n dier doen? Sterkte aan jou. Mag die persone gevang word wat dit aan jou gedoen het.

James ·

As julle bewyse het, noem die name. Sommer die Polisie wat nie wil help se name. Roep Afri se hulp in.

Kabous ·

Al wat ek gaan se is: Ek weet wat ek sou doen en ek sou dit in die nag doen!!!!!!

Kokerboom ·

Dis nou ekonomiese terrorisme. Kan georganiseerde landbou nie die boere bystaan?!

Danie ·

Die polisie is hopeloos.
Is daar nie n organisasie soos byv afriforum wat hierdie arme mense kan help nie?

Gaitsigubib ·

Hulle het net gaan water haal en blomme pluk op die plaas. Geen wonder die Boere is in soveel onguns nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.