Noordwes skuld miljoene vir medisyne

(Foto: pixabay)

Noordwes se departement van gesondheid skuld minstens 50 maatskappye miljoene rande vir die verskaffing van medisyne.

“Ons skuld die maatskappye wat ʼn mediese depot voorsien. Gevolglik kan ons nie genoeg medikasie by dié maatskappye kry nie omdat ons hulle steeds geld skuld,” het Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid, gesê.

ʼn Span van die provinsiale gesondheidsdepartement, onder leiding van administrateur Jeanette Hunter, het Woensdag toegeslaan op die Mmabatho- mediese depot.

Tydens die klopjag is afgekom op onbetaalde fakture van meer as 50 maatskappye wat miljoene rande beloop. Sommige van die fakture dateer uit 2014.

“Een onbetaalde faktuur wat in ʼn laai by die depot gevind is, is vir ʼn bedrag van R16 miljoen. Al die fakture sal eers nagegaan word voor dit verwerk word,” het Sambatha gesê.

Toe die administrasiespan in 2018 by die departement ingegryp het, het voorraadvlakke vir noodsaaklike medikasie op 64% gestaan. Dit is sedertdien tot 85% verhoog. Die vlak het aan die begin van die jaar egter weer begin daal en in Maart het verskeie maatskappye aflewering gestaak omdat hulle nie betaal is nie.

Geld is in April beskikbaar gestel, maar die voorraadvlakke het steeds nie toegeneem nie.

“Die departement het tegniese hulp gekry om die betaling van verskaffers te versnel. Weens dié ingryping het dit onder die departement se aandag gekom dat verskeie fakture vermis word.

“Die mediese depot kon nie maatskappye betaal nie omdat die fakture spoorloos was. Die verskaffers het die voorsiening van medikasie opgeskort wat weer ʼn uitwerking op die voorraadvlakke van die depot gehad het.”

Daar is besluit om op die kantoor toe te slaan. Werkers is toegang tot die perseel verbied en daar is op die onbetaalde fakture afgekom.

“Daar is mense wie se werk dit is om fakture van die provinsiale departement te verwerk en hulle doen nie die werk nie. Dit lei weer tot die onbeskikbaarheid van medisyne by die depot.”

Sambatha het gesê daar word nou ʼn plan opgestel oor hoe om die agterstallige betalings in te haal.

“Dit gaan lei tot verbeterde beskikbaarheid van medikasie by klinieke en hospitale waar dit die nodigste is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adeline ·

Wat gebeur met die mense wat nie hulle werk gedoen het nie? – dit is ‘n gruwelike skande!!!!

Kokerboom ·

Die tipe berigte gaan meer algemeen word..oortjies van seekoei. Die tipe staatsbestuur is lankal die norm en lankal nie meer snaaks.Die ANC is endemies so verrot dat GEEN poging tot oplossing sal werk.
ONS WIL NIE MEER deel van die gemors wees!!!!

Hennie ·

Die wat nie hul werk doen nie kwalifiseer om korrupte ANC ministers te word of buitelandse diplomate!

lollapot ·

Vergeet van ‘affirmative’ en kry mense wat WIL en KAN werk! al is die kleur nie julle voorkeur nie!

Blikke ·

Wonder ek mos nou of daar nie miskien, dalk net miskien van die fakture geriefliksheidshalwe verdwyn het en die ou geldjies van toepassing elders heenkome gevind het nie……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.