Noordwes-voortvlugtige aangekeer

Alfonso Mpofu (Foto verskaf deur die SAPD)

Alfonso Mpofu (Foto verskaf deur die SAPD)

Die polisie in Brits het Dinsdag een van die vier gevangenes, wat uit aanhouding ontsnap het, weer in hegtenis geneem.

“Alfonso Mpofu (25) is in hegtenis geneem nadat inwoners van Majakaneng naby Mooinooi hom gesien het en dit aangemeld het,” het kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, gesê.

Mokgwabone het gesê die polisie het vinnig op die wenk reageer en Mpofu is by sy huurhuis aangekeer. Hy sal na verwagting binnekort in die Brits-landdroshof verskyn op sy oorspronklike aanklagte van moord, vier aanklagte van verkragting, roof en ontsnapping uit wettige aanhouding.

Die ander drie persone wat ontsnap het, Chris Sithole (24) en Gibson Msimango (25) van Zimbabwe en Ontse Lebese (27) van Ga-Rankuwa, is nog steeds op vrye voet.

Die polisie in Brits doen ʼn beroep op inwoners om hulle te kontak indien hulle oor enige inligting beskik wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan om die voortvlugtiges weer in hegtenis te neem. Kontak kapt. Jonas Masinamela by 082 416 0712.

Maroela Media het vroeër berig die vier mans het op 5 Februarie uit ʼn bewegende polisievangwa, wat verhoorafwagtendes vanaf die Mogwase Sentraal-gevangenis na die Brits-landdroshof in die provinsie Noordwes vervoer het, ontsnap.

Sithole en Mpofu, wat tereg staan op aanklagte van moord, roof en verkragting, is glo onder meer saam met die meesterbrein agter die moord op ʼn Pretoriase boer, Hans Huyser (50), in hegtenis geneem. Huyser is op 2 Januarie 2012 doodgeskiet terwyl hy ’n pap band langs die pad omgeruil het. Lees meer.

Lees alle vorige berigte oor die Brits-ontsnapping op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DPJ ·

Hoop die gevange ontsnap nie weer in transito nie. Hoop die voertuig se slotte werk die keer korrek.

Topster ·

Kla die beamtes aan wat hulle in die eerste plek vervoer en laat weg kom het en ketting die verdagte volgende keer behoorlik vas hande en voete dit moet eintlik standard wees in die SAPD

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.