Norma Gigaba weer in hof oor ‘gekrapte’ motor

Norma Gigaba (Foto: Ian Landsberg African News Agency/ANA)

Norma Gigaba, die vrou van oudminister Malusi Gigaba, het Maandag vlugtig in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van crimen injuria en opsetlike saakbeskadiging ná sy glo ʼn luukse motor gekrap het wat haar man geleen het.

eNCA berig die saak teen Norma is vir verdere ondersoek asook weens ’n hangende saak van die hooggeregshof uitgestel.

Luidens inligting het Norma Gigaba se regspan ʼn hofaansoek ingedien om die saak teen haar ongeldig en ongrondwetlik te verklaar.

Sy sal na verwagting weer op 23 Oktober in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig die Valke het Norma Gigaba in hegtenis geneem waarna sy ’n nag in aanhoudingselle deurgebring het.

Sy is die volgende dag vrygelaat, maar aanvanklik nie toegelaat om terug te keer na die huis wat sy met die voormalige minister van onderskeidelik binnelandse sake, openbare ondernemings en finansies deel nie nadat hy haar van aanranding aangekla het.

Die staatsaanklaer het haar egter gedurende haar eerste hofverskyning toestemming gegee om terug te keer na die gesin se huis in Waterkloof.

Die Valke het intussen gesê die dossier met die aanklagte van crimen injuria en opsetlike saakbeskadiging is aan die polisie oorhandig.

Daar is heelwat vrae oor waarom die elite-eenheid enigsins betrokke is by die saak. ʼn Woordvoerder het egter verduidelik die Valke ondersoek eintlik ander, meer ernstige bewerings teen Norma Gigaba.

“Daar is nog ʼn vlak aan die saak en ons ondersoek meer ernstige bewerings,” het brig. Hangwani Mulaudzi vroeër gesê.

Daar word verneem dat dit verband hou met ʼn bedreiging op haar man se lewe.

Malusi Gigaba het in 2018 bedank as minister van binnelandse sake ná ʼn vernederende seksvideo aan die lig gekom het. Die Openbare Beskermer het boonop bevind hy het onder eed gelieg en die uitvoerende etiekkode oortree in die Fireblade Aviation-saak.

Hy is nie meer ʼn LP nie, maar die ANC het hom gevra om die party se jeugvleuel te hervorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Aan wie behoort die geleende duur Mercedes 4×4? Die Guptas? Agter gelos toe hulle land uit is. ‘n Normale mens leen (so) ‘n kar nie uit nie. Versekering gaan ook pla.

Martie Smartie ·

Elite-eenheid se alie man. Wat n grap. En net ter inligting, hulle is deel vd polisie. Hulle is net ‘n onderafdeling vd speurdiens.

Kobus ·

“die Valke ondersoek eintlik ander, meer ernstige bewerings teen Norma Gigaba.” en toe haar man hulle bel toe onthou hulle skielik sy word ondersoek! Onderskat hierdie hierdie woordvoerder ons intellegensie of dink hulle ons net eenvoudig dom? Hier gaan weer ‘n lam rede gegee word.

Scalla ·

Die saak moet ongeldig en ongrondwetlik teen haar laat vaar word, wonder wie het dan die motor beskadig?

Nie Verbaas ·

Onthou, mens durf nie waag om teen hulle op te tree nie. Dit is dan rassisme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.