Normale handelsure vir drankverkope verwelkom

(Argieffoto: Maroela Media)

Suid-Afrika se drankbedryf, wat steeds probeer herstel ná die verbod op die verkope van alkohol tydens die land se strenger afsonderingsvlakke, het pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat drank nou weer tydens gewone handelsure verkoop kan word, verwelkom.

Op afsonderingsvlak 1 is drankverkope vir tuisgebruik vantevore tussen 09:00 en 17:00 en van Maandag tot Vrydag beperk. Dit het dikwels tot lang toue en veral voor toemaaktyd tot ʼn samedromming by winkels gelei. Normale handelsure geld voortaan.

Kurt Moore, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba), het gesê die bedryf besef die uitdagings wat die regering in die gesig staar om die Covid-19-pandemie te stuit en die moontlikheid van ʼn tweede vlaag infeksies te verhoed. Moore het gesê Salba verwelkom die president se doelwit om lewens en inkomste te beskerm deur te konsentreer op die herstel en herbou van die ekonomie.

Lucky Ntimane, sameroeper van die Koalisie van Drankhandelaars, het ook die aankondiging verwelkom. “Ons netwerk van 34 000 taverne-eienaars landwyd verwelkom die opheffing van die handelsbeperkings wat die ekonomiese druk waaronder die bedryf was, aansienlik gaan verlig,” het Ntimane gesê.

“Ons het onophoudelik gewerk om te verseker handelaars voldoen aan Covid-19-regulasies en het dit duidelik gemaak dat ons onverantwoordelike gedrag veroordeel om ʼn tweede vlaag infeksies te voorkom.”

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, het gesê die normalisering van handelsure gaan ook die herstel van die wynbedryf ʼn hupstoot gee.

“Wynverkope by die kelderdeur beslaan ʼn groot gedeelte van die wynbedryf se inkomste en die hervat van normale verkope, veral noudat die toerismeseisoen naderkom, is noodsaaklik,” het Basson gesê.

Hy het gesê die oorlewing van die wyn- en wyntoerismebedryf is noodsaaklik vir ekonomiese herstel – nie net weens die 290 000 werkgeleenthede betrokke nie, maar ook vir die kulturele erfenis wat dit tot Suid-Afrika se handelsmerk bydra.

Patricia Pillay, uitvoerende hoof van die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa), het gesê hulle is verbind daartoe om Ramaphosa se ekonomiese groeiplan te steun. Bier maak die grootste segment van die Suid-Afrikaanse drankbedryf uit en lewer ʼn reusebydrae tot die ekonomie.

“Ons gaan steeds met ons maatskaplike vennote saamwerk om die skadelike gebruik van alkohol te beperk. Ons doen ʼn beroep op alle verbruikers om in matigheid te drink en ook lae-alkohol- en geen-alkohol-opsies wat aan die mark bekend gestel is, op die proef te stel,” het Pillay gesê.

Die bedryf het ook die gesamentlike onderneming gegee dat hy nou saam met die regering en handelaars gaan werk om te verseker daar word aan regulasies voldoen. Dit sluit in bepalings dat handelaars nie meer as 50% van die mense wat gewoonlik in ʼn winkel toegelaat sou word, mag toelaat nie. Handelaars moet ook seker maak klante dra gesigmaskers en handelsure word nagekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos10 ·

Is dit “with immediate effect”? CR het geen melding daarvan gemaak nie.

Willem ·

Nou gaan my werkers Maandag en Dinsdag dronk by die werk aankom

Janine ·

Is dit die drankbedryf se skuld? As werkers dronk opdaag, is dit tog onmiddelike ontslag, is dit nie?

Persheks Adri ·

Jaag hulle dan weg! So maklik soos dit. Ek drink nie eers nie, maar verstaan die werkskepping en ekenomie…

Baardman ·

Het hulle dan voor lockdown ook dronk by die werk aangekom? Dank hulle af. Kry iemand wat wil werk, daars duisende werkloses wat hulle werk verloor het en wat baie bekwaam is

Landras ·

Dit kom nou drie maande te laat vir ons om oop te kan bly . Mens het goed om te Betaal , mnr die President …

Hennie J ·

My wereld, daar is tog sowaar uiteindelik n kader wat vir hom/haar n botteltjie rigting gekoop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.