‘Normale kind-wees’ lê eindelik voor vir 9-jarige anemielyer

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

Die vreugdevure brand hoog in die negejarige Gidion du Toit se huishouding waar die gesin uiteindelik die oproep gekry het waarvoor hulle al so lank wag – daar is ʼn gepaste beenmurgskenker vir jong Gidion.

“Vrekkit, ons is so, so bly! Daar is regtig nie woorde nie. Dit voel onwerklik,” sê ʼn verheugde Tuschka Reynders, Gidion se ma.

“Ons loop al nege jaar lank met hierdie ding. Al vir nege jaar draai my lewe daarom om seker te maak Gidion word nie siek nie, of kom nie in aanraking met mense wat siek is nie, of speel versigtig dat hy tog net nie moet val nie. Ons kan nie op vakansie gaan nie, want Gidion kan seerkry en dan is hy nie naby ʼn hospitaal waar hy bloed kan kry nie.

“Om te weet dat normaliteit nou vir ons voorlê, dat Gidion uiteindelik net ʼn normale lewe sal kan hê en kans kry om behoorlik ‘kind’ te wees… Dit is waansinnig.”

Gidion en sy geliefde kat, Zazu. Foto: Verskaf

Gidion, ʼn leerder aan Bronberg Akademie in Olympus, Pretoria, is by geboorte met die seldsame en genetiese siektetoestand Fanconi-anemie gediagnoseer. Die siekte val sy beenmurg aan en lei daartoe dat die beenmurg onder meer nie funksies soos die produsering van witbloedselle, rooibloedselle en plaatjies kan voortsit nie. Die enigste oplossing vir Gidion sal ʼn beenmurgoorplanting wees, maar om ʼn skenker te kry wat 100% geskik is, is byna ʼn saak van onmoontlikheid.

Maroela Media het vroeër berig die gesin was platgeslaan toe hulle ingelig is dat die drie vroueskenkers, onderskeidelik van die VSA, Swede en Wallis, wat wel geskik is om beenmurg vir Gidion te skenk, weens siekte en persoonlike redes nie meer beskikbaar is om te skenk nie. Tuschka en haar man, Kobus, moes inderhaas ander opsies oorweeg om hul seun se lewe te red.

Maar toe kom die oproep – een van die skenkers wat voorheen aangedui het sy is nie beskikbaar om te skenk nie, het haar besluit heroorweeg. Sy het ingestem om te skenk. Gidion kry ʼn beenmurgoorplanting!

“Ons het nog heeltyd hierdie ding in God se hande geplaas en toegelaat dat hy ons lei, daarom weet ek dat dit danksy die krag van gebed is,” sê Tuschka.

Sy sê aangesien tyd nie aan hulle kant is nie, het dokters reeds begin om die bal aan die rol te sit vir die beenmurgoorplanting om gedoen te word. Die skenker sal nou eers ʼn mediese ondersoek ondergaan om te bevestig dat sy wel in goeie gesondheid is en geskik is om beenmurg te skenk. Daarna sal haar beenmurg weereens getoets word om die passing met Gidion se DNS te bevestig.

Gidion droom daarvan om eendag ‘n brandweerman te word. Foto: Verskaf

Die skenker sal dan behandeling ondergaan waardeur haar beenmurg gestimuleer sal word om meer stamstelle te maak om te skenk. Sodra die skenking gedoen is, sal dit vanaf die VSA na Suid-Afrika gebring word waar dit binne 48 uur in Kaapstad sal aanland.

Die beenmurg sal nog dieselfde dag in Gidion oorgeplant word. ʼn Week voor die oorplanting sal Gidion chemoterapie ondergaan om sy liggaam gereed te kry vir die oorplanting.

“Die beenmurg word sommer deur middel van ʼn drup vir Gidion ingetap. Dit is amper ʼn anti-klimaks gegewe wat dit gevat het om die beenmurg hier te kry,” skerts Tuschka. “Daardie selletjies is so slim, hulle migreer self na die beenmurg toe en weet presies waarheen om te gaan. Wanneer die oorplanting gedoen is, kan ons net bid dat daardie selle vat en begin groei.”

Sy verduidelik indien Gidion se liggaam die skenkerbeenmurg verwerp, kan dit sy dood beteken omdat hy dan geen immuniteitstelsel meer sal hê nie. Indien die oorplanting egter suksesvol is, sal Gidion binne ʼn paar maande ʼn normale lewe kan lei.

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

“Ná die oorplanting moet ons vir 28 dae in isolasie wees omdat sy gebrek aan ʼn immuunstelsel beteken dat enige infeksie sy dood kan veroorsaak. Daarna moet ons vir maande lank binne 20 km radius van die hospitaal af bly en moet Gidion drie keer per week die hospitaal besoek vir ʼn ondersoek. Die dokter wil hê ons moet vir ses maande in Kaapstad bly ná die oorplanting; ek druk vir drie maande. Ons sal kyk hoe dit gaan,” sê Tuschka.

Sy verduidelik dat dit nie net die astronomiese mediese onkoste van die prosedure is wat hulle in gedagte moet hou nie, maar ook die koste verbonde daaraan om ses maande lank in die Kaap te bly en leef, terwyl sy in dié tyd nie kan werk en ʼn inkomste verdien nie.

“Ons het gehoop om R1,5 miljoen in te samel om alles te betaal wat ons nodig het. Ons staan nou eers by net so oor die R400 000. Daar is nog ʼn ver pad om te gaan, maar ons is doenig met allerhande fondsinsamelingsinisiatiewe en is vasbeslote om betyds die geld in te samel.”

Cupcakes for Daisies sal op 8 September ʼn geleentheid ten bate van Gidion in Pretoria hou. Klik hier vir meer inligting.

Om by ander fondsinsamelingsprojekte vir Gidion betrokke te raak, kan jy op Gidion’s Blessed Life-Facebook-blad meer oor dié negejarige lees. Besoek ook die Fanconi anaemia-Facebook-blad of die Hope4Gidion-webwerf.

Lees alle vorige berigte oor Gidion du Toit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gesiggie ·

Dit breek n mens se hart, om te lees van Gideon.. en dat hy vir so lank moes was vir n geskikte beenmurg, en nou is ons saam jul as ouers so dankbaar vir die Engel vrou wat ingestem het om voort te gaan met die skenking, mag God haar so Bless. Mag als goed verloop sodat die jong seun gou weer n normale lewe kan geniet , te kan baljaar en net die geluk in lewe mag ervaar. Sterkte aan jul en mag die operasie goed verloop

leser ·

ek bid saam met die ouers dat die Here sy Hand van beskerming en genesing oor gidion sal hou
sterkte aan familie
ek glo gidion sal herstel

Heinrich Werner ·

Ek het die artikel woord vir woord gelees.
Dit is presies hoe dit gaan werk.
Ek het presies 9 jaar gelede ook ‘n beenmurg oorplanting gehad.
Ek wens julle baie sterkte toe.
Genade en krag van Bo!

Susan ·

Baie sterkte, ek hoop en vertrou als loop goed af vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.