Northam-geweld: Mynbedrywighede opgeskort

Die gewelddadige betoging Maandag (6 Junie 2016) in Northam, Limpopo. Foto: SAPD

Die gewelddadige betoging Maandag (6 Junie 2016) in Northam, Limpopo. Foto: SAPD

Bedrywighede by Northam Platinum Limited se Zondereinde-myn in Northam, Limpopo, is Maandag opgeskort weens die geweld tussen die onderskeie vakbonde.

ʼn Mynwerker is Maandagoggend op die R510 tussen Northam en Thabazimbi met ʼn assegaai doodgesteek, terwyl nog ʼn werker Sondagmiddag by ʼn kruising in Northam doodgeskiet is. Die werker se moord Sondag het vermoedelik aanleiding gegee tot die geweld waartydens twee voertuie aan die brand gesteek is.

Die geweld is glo tussen die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die National Union of Mineworkers (NUM).

Die myn het Maandag gesê voorvalle van intimidasie en geweld het na die myn versprei en bedrywighede is dus tydelik opgeskort. Die maatskappy het gesê daar is Maandagmiddag ʼn vergadering gehou om na ʼn oplossing vir die geweld te soek.

Intussen ondersoek die polisie twee sake van moord, asook sake van opsetlike saakbeskadiging en openbare geweld. “Lede van die polisie se eenheid vir openbare orde het rubberkoeëls afgevuur om die skare uitmekaar te jaag. Die situasie is tans kalm en die R510 is weer vir verkeer heropen,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, Maandagaand gesê.

“Niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie en geen nuwe aanmeldings van beserings is ontvang nie.” Sy het gesê die polisie sal steeds in die gebied bly om die situasie te monitor.

Die gewelddadige betoging Maandag (6 Junie 2016) in Northam, Limpopo. Foto: SAPD

Die gewelddadige betoging Maandag (6 Junie 2016) in Northam, Limpopo. Foto: SAPD

Professor Ludidi, voorsitter van Amcu in die Northam-gebied, het beweer hul lede is Maandagoggend deur NUM-lede aangeval. Hy het gesê die Amcu-lede het oor ʼn heining gespring om weg te kom, maar een persoon het in die heining vasgesit en is deur die NUM-lede doodgesteek. Hy het ook gesê NUM-lede het ʼn Amcu-lid se voertuig aan die brand gesteek.

Joseph Montisetse, NUM se adjunkpresident, het gesê NUM sal nie net toekyk hoe sy lede aangeval word nie. “Ses NUM-lede is sedert Januarie verlede jaar in hierdie gebied doodgemaak. Daar is duidelik ʼn sameswering om NUM by Northam Platinum uit te werk. Ons gaan nie hande gevou sit nie. Ons sal seker maak dat die mense wat aanvalle op ons lede uitvoer aan die pen ry,” het Montisetse gesê.

NUM is die meerderheidsvakbond by die Zondereinde-myn, terwyl Amcu die meerderheid lede by die Anglo American Platinum-myn oorkant die pad het.

Amcu het by NUM oorgeneem as die oorheersende vakbond in die platinumbelt, ná die gewelddadige stakings in 2012 by Lonmin in Marikana en Impala Platinum en Anglo American Platinum in Rustenburg, Noordwes en Northam in Limpopo. Montisetse het Maandag gesê NUM het sedertdien ʼn uitgebreide werwingsveldtog van stapel gestuur en wen geleidelik baie van die lede terug wat hy aan Amcu verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lance ·

Dis die vakbonde wat net bydae by die regering om belegers te verjaag en die ekonomie in die grond te dryf …wat n gemors !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.