Northam-geweld: Mynwerkers steeds nie terug by werk

Geweld tussen Amcu en NUM in Northam, Limpopo (Junie 2016) Foto: SAPD

Geweld tussen Amcu en NUM in Northam, Limpopo (Junie 2016) Foto: SAPD

Die bestuur van Northam Platinum in Limpopo het Woensdag gesê gesprekke vind tussen die onderskeie partye plaas om ʼn oplossing vir die situasie by die Zondereinde-myn te vind sodat werknemers kan terugkeer werk toe.

Die myn het in ʼn verklaring gesê bedrywighede by die myn is opgeskort nadat ʼn werknemer Sondag sowat 20 km van die myn doodgeskiet is. “ʼn Massavergadering sal vandag by die myn gehou word wat deur die NUM, die mynbestuur en die SAPD bygewoon sal word,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig die skietvoorval Sondag het aanleiding gegee tot geweld tussen lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die National Union of Mineworkers (NUM). Nog ʼn mynwerker is Maandag tydens die geweld met ʼn assegaai doodgesteek.

Joseph Mathunjwa, Amcu-president, het Woensdag beweer sy vakbond word uit vergaderings uitgesluit en dat die polisie in Polokwane nie Maandag opgedaag het vir ʼn vergadering wat met die vakbond geskeduleer was nie. “ʼn Mej. of mev. Zulu van Polokwane het gevra dat ons Maandag vergader en ons het tot laat gewag voordat die vergadering weens veiligheidsredes gekanselleer is,” het hy gesê.

“Gister [Dinsdag] het sy toe gevra dat ons 10:30 vergader en ons lede het by die polisiestasie vir haar gewag, maar sy het nooit opgedaag nie. Later het die polisie aan ons vertel sy is by ʼn vergadering by die myn met NUM en die polisie. Dit terwyl Amcu by die polisiestasie moes staan en wag. Dit is ʼn kommerwekkende situasie want dit is presies wat by Lonmin gebeur het toe die mynbestuur, polisie en NUM geheime vergaderings gehou het en Amcu uitgesluit is.”

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê niemand is nog in verband met die moord van die twee mynwerkers in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christo Visagie ·

As jy te lui is om te werk dan staak jy,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.