Northam Platinum versoek werkers om terug te kom

Geweld tussen Amcu en NUM in Northam, Limpopo (Junie 2016) Foto: SAPD

Geweld tussen Amcu en NUM in Northam, Limpopo (Junie 2016) Foto: SAPD

Northam Platinum se Zondereinde-myn in Limpopo het Dinsdag werknemers versoek om terug te keer, nadat gemoedere bedaar het ná geweld tussen die onderskeie vakbonde.

Maroela Media het vroeër berig mynbedrywighede is opgeskort ná ʼn Zondereinde-werknemer Sondag in Northam gesterf het. Nóg ʼn werknemer is Maandagoggend naby die myn vermoor en twee motors is aan die brand gesteek te midde van geweld tussen die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die National Union of Mineworkers (NUM).

“Ons doen ʼn beroep op alle partye om leierskap te toon na dié tragiese voorvalle, in die belang en veiligheid van almal,” het die uitvoerende hoof, Paul Dunne, gesê. “Die mynbestuur sal owerhede in hul ondersoek bystaan waar dit vereis word en poog om die behoeftes van die familie van die oorledenes aan te spreek.”

Die polisie in Limpopo het gesê daar was Maandagaand geen verdere berigte van gewelddadige optrede nie.

Die polisie moes vroeër van rubberkoeëls gebruik maak om die lede van die onderskeie vakbonde te verdryf.

Die geweld het glo uitgebreek ná ʼn 45-jarige lid van NUM Sondag in Northam geskiet is. Hy is drie keer getref en is op die toneel dood.

Die NUM is die meerderheidsvakbond by Zondereinde-myn, die enigste platinummyn onder sy beheer. Amcu is die meerderheidsvakbond by die Anglo American Platinum-myn aan die oorkant van die pad.

Amcu het by NUM oorgeneem as die oorheersende vakbond in die platinumbelt, ná die gewelddadige stakings in 2012 by Lonmin in Marikana en Impala Platinum en Anglo American Platinum in Rustenburg, Noordwes en Northam in Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wat-ek-lees ·

Gepas is die naam van die myn want in SA is stakings ook sonder einde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.