‘Nou is die tyd reg,’ sê Patricia Lewis ná jarelange stilte

Patricia Lewis het ná 11 jaar se stilte besluit dis tyd om weer musiek te maak. (Foto: Verskaf)

Elf jaar gelede, nadat die finale episode van die gewilde SABC 2-talentsoekreeks Supersterre by die Carnival City-arena in Gauteng opgeneem is, het Suid-Afrika se blonde superster Patricia Lewis saam met haar man, Mark Whitfield, en hulle seun, Max, in die motor gespring en KwaZulu-Natal toe gery waar hulle ʼn nuwe lewe buite die kollig begin het.

Patricia, wat tot op daardie tydstip een van die grootste sterre in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf was, wou ʼn stadiger lewe lei en haarself op moederskap en haar nuwe rol in die eiendomsmark toespits.

“Twee weke nadat ons in Ballito aangekom het, het Max met gr. 1 begin. Ek wou elke tree van die pad daar wees vir hom: Ek wou sy toebroodjies maak en hom langs die sportveld aanmoedig, ek wou hom oplaai en aflaai by die skool. As sy ma was dit my voorreg om al my aandag geheel en al op hom te fokus,” vertel Patricia in ʼn onderhoud vanuit haar huis in Zimbali in Ballito aan Maroela Media.

Sy het immers tot op daardie punt in haar lewe haar beurt gehad om haar droom en passie uit te leef, sê Patricia, wat reeds op die ouderdom van 14 in die vermaakbedryf as model begin werk het.

Sy was 37 jaar oud toe Max gebore is en het soveel dinge beleef en gedoen, dat dit reg gevoel het om die rol van ma ten volle te vervul. Tog het sy altyd geweet sy sal terugkeer na die verhoog wanneer die tyd ryp is, en vanjaar het sy besluit om aanhangers te bederf met ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “Hello hello, ek het jou gemis”.

Patricia Lewis en haar seun, Max. (Foto: Verskaf)

“Twee jaar gelede het ek uiteindelik op sosiale media aangesluit en mense het my met sulke ope arms verwelkom, wat my hart warm gemaak het. Ek was verstom om te sien dat mense nog belang stel in hierdie blonde bimbo,” lag sy.

“Hulle het aanhou vra ‘wanneer kom die nuwe liedjies, wanneer kom die nuwe album’, en tydens die Covid-19-inperking het ek besluit: Nóu is die tyd reg.”

Max is nou 17 jaar oud en in gr. 11, nog ʼn rede om weer haar loopbaan as sangeres te hervat, sê sy. “Hy kook nou sy eie kos en het ʼn leerlinglisensie, so hy bestuur die wêreld vol saam met sy pa. Hy is nou nie meer klein nie en daarom kan ek weer ʼn bietjie tyd maak vir my passie vir musiek – die passie wat my ouers as ʼn jong meisie in my gekweek het.”

Sy het kontak gemaak met die musiekvervaardiger Robin Kielly en ʼn tuisateljee in een van haar gastekamers geskep. Saam het hulle sewe liedjies opgeneem wat oor die volgende paar maande uitgereik sal word. Die bekroonde liedjieskrywers Johan Vorster en Rudi Claase het onder meer vir haar liedjies geskryf.

Patricia vertel sy het ʼn ander liedjie in gedagte gehad waarmee sy die musiekbedryf wou stormloop, maar toe haar ma, Linda Lewis, in April vanjaar dood is ná ʼn 12-jaar lange stryd met alzheimersiekte, het sy besluit sy wil eerder “Hello hello, ek het jou gemis” ter nagedagtenis van haar geliefde ma uitreik.

“Voordat my ma dood is, het ek die nuwe liedjies wat ek opgeneem het vir haar gespeel. Daar was baie tye wat sy nie geweet het wie ek en my twee susters, Vanessa en Julie, is nie en wat sy nie bewus was van wat rondom haar aangegaan het nie. In die helder oomblikke kon sy egter na my musiek luister en ‘Hello hello, ek het jou gemis’ het iets in haar wakker gemaak,” onthou ʼn emosionele Patricia.

“Sy sou haar hande klap en opgewonde glimlag wanneer ek dié liedjie gespeel het. Die liedjie laat my elke keer aan my ma dink en daarom wou ek dit graag eerste met die wêreld deel.”

Die wêreld het weens die Covid-19-pandemie ook die laaste twee jaar soveel hartseer beleef dat sy nie ʼn tranetrekker wou uitreik nie, vertel Patricia.

“Soveel mense het iemand aan die dood afgestaan die laaste paar jaar en ek wou iets uitreik wat mense se gemoed kon lig, al is die liedjie vir sommiges hóé cheesy.”

Natuurlik wou sy ook deur die liedjie vir haar aanhangers ook ʼn boodskap gee: “Ek het hulle óók gemis!”

Volgens Patricia is sy oorweldig deur die positiewe terugvoer wat sy oor die nuwe liedjie ontvang. Hoewel sy nog geen musiektoekenning op eie bodem ontvang het nie, voel dit vir haar soos ʼn toekenning wanneer die publiek na haar musiek luister en haar vertonings bywoon.

Patricia Lewis en haar ma, Linda Lewis. (Foto: Facebook/Official Patricia Lewis)

“‘Hello hello, ek het jou gemis’ het binne enkele weke die no. 1-posisie op Bosveld Stereo behaal en ek is ongelooflik dankbaar daarvoor. Die liedjies wat ek opgeneem het, is almal sowat 50 jaar oud en is ʼn huldeblyk aan my ouers. Ek sien baie uit daarna om dit met my aanhangers te deel.”

Sy lag wanneer sy vertel sy ontvang dosyne video’s van aanhangers wat haar naboots terwyl hulle “Hello hello, ek het jou gemis” sing. “Van die video’s is skreeusnaaks, met mense in blonde pruike wat hulle hare rondskud en kinders wat onder diskoligte op my liedjie dans.”

Daarom het sy besluit om luisteraars te nooi om hulle video’s te stuur wat uiteindelik deel sal vorm van die liedjie se amptelike musiekvideo.

“Ek sal uiteraard ʼn verskyning in die video maak, maar ek wil hê my aanhangers moet die sterre in die musiekvideo wees. Ek wil hulle op dié manier bedank vir hulle ondersteuning en die kollig op my ondersteuners plaas.”

Sy vertel dat sy op 29-jarige ouderdom vir die eerste keer ʼn Afrikaanse snit uitgereik het nadat ʼn Engelse album wat sy opgeneem het glad nie goed gevaar het nie.

“Ek het vir jare aan platemaatskappye se deure geklop en hulle wou my nie ʼn kans gee nie, want ek was gestereotipeer as die beauty queen, die TV-meisie. Ek het egter aangehou en aangehou en uiteindelik het Jurie Els my raakgesien en ʼn kans gegee. Twee maande nadat ek ‘Ek is lief vir jou’ uitgereik het, het my lewe handomkeer verander.”

Patricia Lewis en haar man, Mark Whitfield. (Foto: Verskaf)

Sy hou vol sy het haar loopbaan, waartydens sy treffers soos “Single Girl” en “Doodgewone man” uitgereik het, met integriteit en goeie etiek aangepak.

“Ek het voorheen baie geleentheid gehad om bekend te word as ek sou wou, maar ek het voet by stuk gehou dat ek dinge op my manier sal doen. Net soos my ma my geleer het: As jy iets doen, doen dit ordentlik. Ek lei my hele lewe op my eie terme.”

Wanneer Patricia by die huis is, stap sy twee keer per week saam met ʼn stapgroep wat sy op die been gebring het in Zimbali, maar voeg laggend by dat “die kakebene meer oefen as wat ons oefen, want ons hou nie op gesels nie”.

Sy het tydens haar deelname aan Celebrity Masterchef SA in 2015 ʼn liefde vir koekbak ontdek en sê sy bak steeds koek as ʼn stokperdjie vir vriende en familielede se spesiale geleenthede.

“Toe Mark my ontmoet het, kon ek nie eers ʼn eier bak nie. Hy vertel altyd die storie dat daar ses pienk kolwyntjies van Woolworths in my yskas was toe hy my die eerste keer ontmoet het. Ses weke voor Masterchef het ek geleer hoe om onder meer ʼn hoender-, vis-, en rooivleisgereg voor te berei en het net een keer tevore ʼn koek gebak.”

Sy en Mark vier vanjaar hulle 20ste herdenking sedert hulle mekaar ontmoet het en in Januarie volgende jaar is hulle 19 jaar getroud.

“Ons sal miskien weer ʼn klein seremonie hou in die Maldives – net ek, hy en Max, soos ons dit gedoen het toe ons ons tienjaarherdenking gevier het. Ek en Mark lag ongelooflik baie saam en vir mekaar. Hy lag vir my wanneer hy my in die oggend sonder grimering sien, wat ʼn bietjie onregverdig is want hy is natuurlik beeldskoon,” koer Patricia.

“Mark het 20 jaar gelede sy loopbaan in die IT-wêreld opgegee om by my te wees en is sedertdien my grootste ondersteuner. Ons is 24 uur van die dag saam en ons balanseer mekaar goed uit, want hy is baie stil en ek hou nooit op met praat nie!”

Luister na “Hello hello, ek het jou gemis” op digitale platforms soos Apple Music en Spotify. Volg ook vir Patricia Lewis op Facebook en Instagram.

  • Gaan só te werk om deel te neem aan Patricia Lewis se Hello Hello- musiekvideo-uitdaging:
  • Maak ʼn kort video van jou saam met jou vriende en/of familie terwyl Patricia se nuwe enkelsnit, “Hello hello, ek het jou gemis”, speel.
  • Plaas dit op jou sosialemediaplatforms, deel (tag) dit op Patricia Lewis en Albertus Kotze se Facebook-bladsye en daag ook vyf van jou Facebook-vriende uit om dieselfde te doen.
  • Wees oorspronklik en wie weet, jy is dalk die volgende YouTube-ster.
  • Die sluitingsdatum is 30 November 2021.
  • Sodra die musiekvideo van “Hello hello, ek het jou gemis” op YouTube beskikbaar is, kan jy gaan kyk wie die video gehaal het.
  • Deur deel te neem gee jy die vervaardiger toestemming om jou video te gebruik, indien dit deur die beoordelaars gekies word.
  • Bepalings en voorwaardes geld.
  • Maroela Media is nie direk by betrokke by hierdie veldtog nie en lewer geen bydraes of insette oor die finale video nie.

HELLOOOHELLOOO!! EK HET JOU GEMIS!!BEAUTIFUL MENSE!!????????❤️❤️????????????????????????HIER IS DIT! ????????????DIS NOU BESKIKBAAR OP APPLE ITUNES, SPOTIFY, JOOX, DEEZER…! MY EERSTE LIEDJIE IN 11 JAAR!!????????????????❤️❤️???????????????????????????????????????? YOU beautiful people are like family to me… I’ve known some of you for decades & decades!! ????????❤️????So…????????You’re allowed to be brutal!! ????????Is the song cheesy…? Yes!Do I care…? No! Why…? Because the WHOLE WORLD has SUFFERED, it has been A VERY HEARTBREAKING & SAD place for 20 months!! ????????So I decided to write UPLIFTING, HAPPY, CHEERFUL, SING ALONG LYRICS about how I have MISSED LIFE, LIVING, SEEING FAMILY, FRIENDS LIKE ALL OF YOU and coming OUT of the heartbreaking darkness that we have ALL experienced and endured by hopefully putting some smiles back on your precious faces!!! ????????❤️LIEF JULLE ALMAL!!❤️????????????????❤️ BAIE DANKIE VIR AL JULLE PRAGTIGE BOODSKAPPE EN ONGELOOFLIKE ONDERSTEUNING EN LIEFDE DEUR AL DIE JARE!????????????????❤️❤️You’ve all touched my heart!????????????❤️HELLOOO!! HELLOOO!! EK HET JOU GEMIS!!????????❤️❤️❤️Produced by Robin Kielly “Genius!”????Photographer: Mark Whitfield ????Editor: Max Whitfield ????Video and recording editor: Mark Whitfield. ????

Posted by Patricia Lewis on Tuesday, September 21, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wielspore ·

Sterkte met die her-toetrede, skryf en sing ‘n lied wat met die luisteraar se siel praat, dan het jy ‘n treffer wat vir altyd onthou sal word.

miavos ·

Welkom terug, Patricia! Jy het ‘n pragtige man, en net so ‘n pragtige seun. Welgedaan!

Shakespeare ·

Jy is ‘n top ster en vrou Patricia. Ek salueer jou.

Danielle ·

Was nooit n “fan” nie, maar het baie respek vir iemand wat hulle lewe op hulle terme lei, EN so n sukses van jou passie maak… En n wonderlike ma en vrou… Voorspoed vir julle

JohanR ·

Ek kan rerig se ek ken nie een liedjie deur Patricia Lewis of het een van haar CD’s. Maar dan kan ek die selfde van Madonna en Miley Cyrus se.

Jannie van Niekerk ·

Moenie sleg voel nie, ek ken ook nie haar musiek nie.

Jo ·

Baie talentvol. Miskien is dit ook tyd vir n nuwe haarstyl? Die extension look is so 1980. Voorspoed.

Duck ·

Ja, nè…ek is nou nie juis die aunty se fan nie, maar nou ja, different strokes to different folks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.