‘Nou kan geregtigheid hopelik geskied’

Alet Herbst (75) is in Oktober 2018 dood toe Tasmin Wells se motor vanuit die aankomende baan in Walter Sisulustraat in Middelburg voor hulle ingeswaai het. (Foto: Verskaf)

Die dogter van ʼn bejaarde vrou wat drie jaar gelede saam met haar huiswerker in ʼn motorongeluk gesterf het, sê sy hoop geregtigheid sal geskied noudat die bestuurder wat glo dié noodlottige ongeluk veroorsaak het, eindelik verhoor gaan word.

Alet Herbst (75) en Lina Lukele (51) is in Oktober 2018 dood toe Tasmin Wells se motor vanuit die aankomende baan in Walter Sisulustraat in Middelburg voor hulle ingeswaai het. Wells was glo onder die invloed van drank toe die voorval plaasgevind het.

Herbst sou Lukele, wat 10 jaar lank by die gesin gewerk het, by ʼn bushalte naby Mhluzi, ʼn informele nedersetting, gaan aflaai het. Lukele sou daarvandaan huis toe gaan.

Pikkie Fourie (59), Herbst se dogter, sê sy en haar pa, Thys (82), beplan om die verhoor by te woon, wat na verwagting van 6 tot 8 Desember in die Middelburg-streekhof in Mpumalanga sal plaasvind.

Intussen probeer hulle steeds om Herbst se dood te verwerk.

“Dis nog steeds baie moeilik. My pa vat dit baie swaar, en hy is baie eensaam,” sê Fourie.

“My kleinkinders kry ook nog swaar. Hulle was baie geheg aan hul oumagrootjie, en hulle [die agterkleinkinders] was haar alles.”

Fourie sê sy en haar pa het intussen ook van hul kleinhoewe na die dorp verhuis omdat hulle gereeld verby die ongelukstoneel gery en dan opnuut trauma beleef het.

“Ons moes net wegkom van daai aaklige pad af.”

Hulle het 29 jaar op dié kleinhoewe gewoon voordat hulle nou Clubville, ook in Middelburg, toe getrek het.

Fourie sê sy mis haar ma nog elke dag.

“Sy sou altyd kom inloer – al was dit net om vinnig hallo te sê.

“Ek mis haar omgee. Sy het al die jare verpleeg en het ʼn groot hart vir haar medemens gehad. Sy sou enigiets vir ander doen en was tot op die dag van haar dood nog by ʼn ouetehuis betrokke.”

Lina Lukele (51) is in Oktober 2018 dood toe Tasmin Wells se motor vanuit die aankomende baan in Walter Sisulustraat in Middelburg voor hulle ingeswaai het. (Foto: Verskaf)

Lukele, sê Herbst, was die “dierbaarste mens”.

“Lina was ʼn Jesuskind deur en deur. Sy was iemand wat so hard gewerk het. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

“Lina het haar familie se kinders sowel as haar eie versorg. Sy was die broodwinner en haar kinders het vir haar die wêreld beteken.”

Fourie sê sy is namens haar ma en Lukele dankbaar vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid wat destyds by die saak ingegryp het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het eers besluit om vervolging in te stel nadat dié eenheid in Augustus verlede jaar navraag gedoen het oor waarom niemand tot op daardie stadium vir Herbst en Lukele se dood vervolg is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Dit raak nou ‘n allerdaagse ding dat een of ander organisasie eers moet intree voordat die NVG besluit om vervolging in te stel. Watse snert is dit? Hierdie patetiese korrupte spul moet begin hulle werk doen vir die salarisse wat hulle kry. “Boetie sorg mos vir boetie”

Magda ·

Die een wat besluit in di nvg wie moet vervolg word of ni moet vervang word want duidelik kan hy/sy ni die werk doen ni. Sterkte hoop di persoon gaan baie lank sit vir di 2moorde wat hy gepleeg het, as jy n motor bestuur as jy dronk is, dan is dit net so goed soos iemand wt n moord beplan.

Swerwer ·

Die NVG beskerm die Regering se volgelinge. Die SAP is te lamsakkig om hul
werk ordentlik uit te voer. Cele is sienende blind en horende doof. Onbevoeg vir sy Pos, maar weereens ‘n ANC lid wat beskerm word deur sy kader.

Moedeloos ·

Ek hoop en vertrou dat jul ook n eis teen die padongelukfonds ingestel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.