Nou kan hy onderwys en Afrikaans kombineer

daan-potgieter

Daan Potgieter is nou die uitvoerende hoof van die nuwe Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON). Foto: Carla van der Spuy/Maroela Media.

“Kinders beskik oor die vermoë om mens keer op keer te verras.”

So gesels Daan Potgieter (55) wat pas die onderwys verlaat het om ʼn pos as uitvoerende hoof van die nuwe Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) te aanvaar. Hoewel sy hart nog altyd in die onderwys was en hy as laerskoolseun reeds op hierdie loopbaan besluit het, kan hy nou sy liefde vir Afrikaans en die onderwys kombineer.

Daan voel “bevoorreg” omdat hy aan twee Afrikaanse topskole verbonde was – eers as adjunkhoof by die Afrikaanse Hoër Seunskool en toe die afgelope sewe en ʼn half jaar as skoolhoof by Hoërskool Waterkloof. Hy het geskiedenis by Affies gegee wat saam met Afrikaans sy hoofvakke op universiteit was.

Hoe ervaar hy die hedendaagse onderwys? “Almal is bewus van skole wat afgebrand word, slaagsyfers by party skole wat ʼn ronde nul is en onderwysers wat amper meer as die kinders bank.

“Die sleutel tot die sukses van ʼn skool is die struktuur by jou skool en of daar ʼn kultuur van dissipline is. Baie hang van die skoolhoof af, maar dis ook belangrik om ʼn sterk bestuurspan, goedopgeleide departementshoofde en ʼn deursigtige dissiplinêre beleid te hê wat konsekwent toegepas word. Dit begin by die onderwyser in die klaskamer.”

Daan sê ook in baie gevalle waar skole trotse tradisies handhaaf, word nie sommer dinge gedoen wat die skool of die leerder benadeel nie.

Watter mites bestaan oor die onderwys?

“Dis beslis nie ʼn halfdagwerk nie. Vra enige onderwyser hoe lank dit neem om 300 opstelle te lees of vraestelle waaraan kinders ure geskryf het, na te sien. Jy moet jou ook daarop voorberei dat jy by talle buitekurrikulêre bedrywighede betrokke gaan wees soos swem, rugby, hokkie en redenaarskompetisies.

“ʼn Jong onderwyser se eerste jaar in die onderwys is die heel moeilikste,” vertel hy.

Hy is van mening dat veral Afrikaanse skole ook teen ʼn wenkultuur en bekerbeheptheid moet waak omdat dit ʼn effense wanbalans gebring het.

“Sport het opvoedingswaarde, maar as alles om die trofee draai, loop jy iets mis.

Daan (links) het in 2015 die HB en MJ Thom-toekenning vir die bevordering van uitnemende onderwys van die FAK ontvang. Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het die toekenning aan hom oorhandig. Foto: FAK.

“ʼn Skoolhoof moet talle balle in die lug hou en toeganklik wees. Hy is nie meer die kwaai oom in die kantoor wat die lat uitpluk of waarheen ʼn kind ontbied word as hy in die moeilikheid is nie.

“Die moeilikste deel van die beroep is die eindelose burokrasie en administrasie wat tot vervelens toe herhaal moet word,” sê Daan.

“Dit raak ook moeiliker vir onderwysers om te fokus op dit wat hulle wil doen. As skoolhoof het ek dit gemis om voor ʼn klas te staan, maar ek is darem soms toegelaat om dit te doen.”

Vir hom was die hoogtepunt van sy onderwysloopbaan die uiteenlopende persoonlikhede waarmee mens daagliks te make het en die kinders se soms verrassende optredes.

“Hulle kom altyd met iets nuuts vorendag.”

Hy glimlag as hy vertel van die radiostasie wat die seuns in die koshuis by Affies –  waar hy koshuisvader was, uit pure nuuskierigheid gebou het. Dis dáár waar hy die bynaam “Pappa Pot” gekry het.

“Hulle het hul eie uitsendings, platejoggie en rooster gehad en vir die meisies boodskappe gestuur. Ek het daarvan te hore gekom toe iemand wat toevallig in die straat voor die koshuis verbygery het, die boodskappe opgevang het. Toe stel die skool ondersoek in, maar alles was darem in ʼn goeie gees en groot pret.”

By Waterkloof was dit weer die skool se tradisionele Kapperjolle op Vrydae wat hom altyd sal bybly.

“Dit is een keer per maand net ná saalopening deur die kinders gereël en het uit spontane vermaak, ʼn bietjie lawwigheid en draakstekery met gebeure by die skool bestaan.”

So is hy tot groot vermaak van die kinders aangesê om aan ʼn tafeltenniswedstryd teen die geeskoördineerder deel te neem. En tafeltennis is iets waarvan hy so min as ʼn kat van saffraan weet.

Toe laat hulle hom maar wen.

Oor die feit dat die onderwys soms ʼn stresvolle beroep kan wees, stem hy saam.

“Ja, as jy die koerant oopmaak, sien jy hoe die onderwyslandskap verander het. Daar is uitdagings en druk op die onderwysers wat voltyds hul kant moet bring om te presteer. Dan is daar die verwagtinge by ouers wat daarvan oortuig is dat hul kinders goed gaan vaar as hulle by topskole ingeskryf is wat nie noodwendig die geval is nie.”

Hy sê selfs by die Afrikaanse topskole is daar kinders wat dit nie breed het nie, asook anderstalige kinders wat met die taal sukkel. Die deurslaggewende faktor is om te kies om in Afrikaans skool te gaan.

Afrikaans lê hom na aan die hart.

sos-leierskapkongres-2018-daan-potgieter

Daan het tydens die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se onlangse onderwyskongres oor personeelerkenning en -motivering gepraat. Foto: Verskaf.

Hy vervolg: “Ons het ʼn verwronge idee dat Afrikaans net aan een groep behoort. Dit is ʼn argaïese beskouing en lei tot stigmas oor Afrikaans. Dis lekker om Afrikaans te hoor op plekke waar jy dit nie verwag nie. Van die mooiste uitdrukkings in Afrikaans word nie noodwendig met wit Afrikaanssprekendes verbind word nie.”

Hy is gek oor ou idiome soos om na “die mannetjie met die kurkhoed” te verwys en het gevind dat leerders hierdie beeldspraak van weleer ook begin gebruik. Hy het egter ʼn broertjie dood aan die vermenging van tale omdat mense dink dis cool.

Omdat hy as skoolhoof so graag die uitdrukking, “Ons het die pyp gerook”, gebruik het, was een van sy afskeidsgeskenke by Waterkloof ʼn pyp en twak – selfs al is hy nie ʼn roker nie!

Hoekom dan die onderwys verlaat, want dit is duidelik dat dit vir hom ʼn roeping eerder as ʼn beroep was?

“Die pos by die AON is ʼn nuwe uitdaging en ek kan nou my passie uitleef om te sorg dat Afrikaanse onderwys behoue bly. My nuwe werk behels dat ek ʼn netwerk tussen die onderskeie rolspelers en skole met Afrikaans as onderrigtaal bou.”

“Ek sal voortaan op ʼn ander vlak werk en sal moet kyk na watter uitdagings skole het wat onder druk verkeer, eerder as om na ʼn ouer of ʼn kind se behoeftes te kyk. Ek bly dus by die onderwys, maar dié keer is daar nie ʼn rooster of skoolklok wat lui nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Chris du preez ·

Vir my seuns geskiedenis gegee by Affies. Voorspoed met jou loopbaan

rafel ·

Sterkte met die nuwe uitdaging; ons gaan doe AON baie nodig he in die nabye toekoms

Houtoog ·

Skynbaar is my HAT foutief. Ek het ‘n regstelling aangebring, die woord verander na ‘kaPPerjolle’.

LB S ·

Aitsa vir die baadjie met die pienk strepe! Alles van die mooiste, meneer en baie dankie!

Adri ·

Ek en Pieter Bruwer wou iets soorteglyks as AON begin in 2003, maar kon geen samewerking kry nie. Mag hierdie poging baie geseënd wees!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.