Nóú toet ons lekker

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die Toeter-bekendstellingsvideo

‘n Verskeidenheid nuwe instellings op die Afrikaanse sosialemedia-netwerk “Toeter”, is onlangs bekend gestel en bied ‘n magdom handige funksies.

Toeter het nou vier magnete wat ons gebruik om inligting na die gebruiker te stroom,” het Frans Roelofse, stigter van toeter, gesê. “Magnete” op Toeter kan vergelyk word met hutssleutels op ander sosialemedia-netwerke.

Die nuwe magnete wat Toeter ingestel het, is #bliksem (vir nuus), #smous (handelswinkel), #kykNET en #toeter en daar is glo nog heelwat meer in die pyplyn. “Die magnete sal eie aan Afrikaans wees en aan gebruikers toepassings en funksies in hulle taal bied sodat ons lekker kan gesels, foto’s deel en nuwe woorde skep,” het Roelofse bygevoeg.

Gebruikers kan dus óf die hutssleutels gebruik om inligting oor die betrokke magneet te bekom of bloot op die magneet se knoppie te druk op Toeter se tuisblad.

Skermskoot van die Toeter-webwerf

Skermskoot van die Toeter-webwerf

Roelofse het gesê hulle het ook ‘n afdeling vir “Groot Toeters”, of “GT’s” bekend gestel. Mense wat die meeste geraas maak op toeter kry dié ereplek of as jy ‘n bekende kunstenaar of mediapersoonlikheid is, kry jy ‘n blinkster. Gebruikers kan die GT’s volg en saam gesels. Die lys van name onder toeter se GT’s sluit bekendes soos Emo Adams, Navi Redd, Kurt Darren en Karen Zoid in. Daar is ook die wat baie te sê het, maar verkies om onder ‘n skuilnaam te toet, soos Kaapstadkind en toeterbek. Ondernemings maak ook reeds met groot sukses van dié netwerk gebruik en tans tel Maroela Media, kykNET, DHL Stormers, Ontbytsake en die Afrikaanse versekeraar, Virseker, ook onder die GT’s.

Roelofse het bygevoeg die groot nuus is dat die Toeter-app vir slimfone binnekort bekend gestel word. “Dan kan jy sosiaal verkeer, privaat boodskappe stuur of na toetertv kyk, wat ‘n mobiele tv is wat vir die eerste keer op Toeter beskikbaar sal wees. Ons het die toepassings só ontwerp dat jy tussen die drie kan rondreis sonder om jou plek te verloor!” Hy het gesê dit sal ʼn eerste in Suid-Afrika wees, en noem dit ʼn “super toep”.

Volgens hom wil hulle die hele Suid-Afrika aanspreek en daarna deur Afrika trek.  “In die proses sal ons aanhou om ons gebruikers te verbaas en te verstom,” het hy gesê.

Statistiek wys dat gebruikers ongeveer 147 minute per dag op hul selfone spandeer en ‘n gemiddeld van 96 keer in ‘n 12-uur dag hul fone gebruik. Daar is ook reeds 1.5 miljard slimfone op die planeet, dit is 22% van alle selfone. Afrika het 650 miljoen fone. In die jaar 2000 het hierdie getal maar op 16.5 miljoen gestaan. Altesaam 18% van fone in Afrika is slimfone, met Kenia wat met ‘n allemintige 67% spog. Teen die jaar 2018 behoort die meeste gebruikers in Afrika slimfone te hê en 75% van hulle sal internettoegang hê.

Volgens Roelofse is Facebook en Twitter plekke waar mense dikwels leë kommunikasie het, aangevoer deur e-poskennisgewings aan die gebruiker – dis ’n groot probleem vir groot netwerke. “Die soektog na sukses is deesdae kleiner netwerke waar daar ’n besliste rede is om te reis. Gebruikers kies hulle groepe en belangstellings – dit word digitale stamgebondenheid (digital tribalism) deur die geleerdes genoem. Dus, gebruikers hou daarvan om aan verskillende groepe of belangstellings te behoort en in eenvoudiger omgewings te verkeer – ook genoem mobiele digitale dorpies (digital villages). Netwerke, groot of klein, is hier om te bly, en mobiele internet is besig om alles oor te neem. Net in Afrika alleen sal daar binne 4 jaar 700 miljoen slimfone wees.”

Daar is ‘n oorweldigende migrasie neiging na mobiele internet gebruik, met sosiale media as die hoofrede hiervoor. Die internet word 86% deur middel van apps besoek, terwyl slegs 14% soekenjins hiervoor gebruik. Die tyd wat gebruikers op hul fone spandeer, is nou hoër as die tyd wat hul TV kyk (volgens InMobi), met internet TV wat ook besig is om tradisionele TV se plek in te neem. Dit is glo juis die rede waarom toeter begin is.

“Ek het drie jaar gelede besef daar is geen sosiale media platform eie aan Suid-Afrika nie, en beslis nie een vir Afrikaans nie,” het Roelofse bygevoeg. “Ek het besluit om te begin met Afrikaans, dan kan ons lekker sonder grense gesels. Sowat 80% van die netwerk sou sin maak vir 80% van die gebruikers en dit is tog beter. Ek het in diepte navorsing gedoen om te bewys dat Afrikaanse mense baie hiervan sou hou – en nou word selfs ons stoutste verwagtinge oortref.”

Klik hier om by Toeter aan te sluit.
Onthou om ons te volg: @MaroelaMedia

Hierdie video verduidelik vir jou hoe om aan te sluit:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.