Noue ontkoming ná slang in stort skuil

Die slang het die vrou in die stort aan haar voet gepik.

ʼn Werker van die Mystic Monkeys and Feathers-dierepark in Rust de Winter, in Limpopo, het ʼn noue ontkoming gehad nadat sy in die stort deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gepik is.

Die 60-jarige vrou is Donderdag op haar voet gepik.

Sy is inderhaas na die Mmametlhake-hospitaal in Hammanskraal geneem, waar sy aanvanklik glo met oor-die-toonbank-medisyne behandel is omdat daar geen teengif beskikbaar was nie.

De vrou se toestand het glo deurlopend versleg. Haar voet het begin brand en swel en Christa Saayman, eienaar van die dierepark, het besluit om haar na ʼn ander hospitaal te laat oorplaas.

Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdiens, het gesê daar is eindelik besluit om die vrou na die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria te neem, waar sy spesialisbehandeling sou kon ontvang. Sy is in ʼn ernstige toestand met ʼn helikopter daarheen gevlieg.

Die slang is ná die voorval doodgemaak.

Saayman was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Maroela Media het ook ʼn navraag aan die gesondheidsdepartement gestuur oor die vrou se beweerde behandeling. Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement, het onderneem om terugvoer oor die voorval te gee.

Volgens die Afrika-instituut vir slangbyte is Mosambiekse spoegkobras uiters gevaarlik. Hulle is meestal snags aktief en beland dikwels in huise waar mense gepik word terwyl hulle slaap. Die slange is verantwoordelik vir die meeste ernstige slangbyte in Suider-Afrika, maar volgens die instituut is sterfgevalle skaars.

Die slange se gif veroorsaak pyn, swelling, blase en in sommige gevalle kan dit ook weefselskade aanrig. Volgens die instituut moet teengif so gou moontlik toegedien word om weefselskade te verhoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Roche ·

Rust te winter is nie oos van Pretoria nie…. dis Noord van Pretoria

Megan Swart ·

Dagsê Ida
Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die flater, die berig is gewysig.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Megan Swart ·

Dagsê Roche
Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die flater, die berig is gewysig.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Ida Kriel ·

Sjoe dis erg en ek is vreesbevange vir slange. Dit is n pragtige plek en ek was al 2x daar. Sal beslis weer baie gou gaan, want die interaksie met die diere is wonderlik en dis so rustig en skoon daar.

AndrewL ·

‘n Hospitaal in daardie wêreld wat nie slangbyt kan behandel nie? Ai, ou Jan moes darrem beter beplan het.

fdt ·

“Hulle is meestal snags aktief en beland dikwels in huise waar mense gepik word terwyl hulle slaap” – ter inligting aan diegene wat altyd daarop aandring dat slange nie aggresief is nie en mense sal vermy of van hulle vlug wanneer moontlik.

skuldig ·

Maak nie slang dood maar die bos is eintlik hulle tuiste? Wie het oortree.

Ida Kriel ·

Goed jy sê my dat hul na die huise kom. Dis baie onrusbarend vir my. Kan nie glo die slang sal pik terwyl jy rustig slaap nie. Dis mos soek vir sy dood. En ja dis erg dat geen teenmiddel beskikbaar is in die hospitale wat plattelands is. Wat is reg in die land.

Alida ·

Niemand se n woord van die Drs wat weggehardloop het nie. Hallo!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.