Noue ontkoming toe ligte vliegtuig deur dak bars

(Foto: ER24)

Die vlieënier en medevlieënier van ʼn ligte vliegtuig het net ligte beserings opgedoen toe hul vliegtuig deur ʼn dak van ʼn gebou gebars het in Alberton aan die Oos-Rand.

Paramedici van ER24, die provinsiale nooddienste en ander reddingspanne is Sondag kort na 14:00 na die toneel ontbied.

Die ligte vliegtuig het hoogte verloor en deur die dak gebars, en neus na onder aan die dak gehang. “Albei insittendes was steeds in die vliegtuig,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, gesê.

Reddingstoerusting is gebruik om die mans veilig op die grond te kry nadat hulle daarin kon slaag om deur ʼn venster van die vliegtuig te klim.

“Die twee is ondersoek en daar is bevind dat hulle geen ernstige beserings opgedoen het nie. Hulle is later deur ER24 en die provinsiale nooddienste na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.”

Die presiese omstandighede rondom die voorval is nog nie bekend nie. Volgens Vermaak het die mans glo van Bloemfontein af gevlieg toe die voorval plaasgevind het.

Die Burgerlugvaartowerheid sal die voorval ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Word die streng standaarde vir die onderhoud van ligte vliegtuie nog ooit gehandhaaf?

Hennie ·

Meestal. Die vliegtuig het egter uit brandstof gehardloop…anders was beide verkool in dié ongeluk!

Spook ·

Dus in kort, die vliegtuig het te veel lug in die tenks gehad.

Hennie ·

Die vliegtuig was droog… Geen brandstof! Anders was hulle beide verkool gewees!

Samuel ·

Winder bo wonder niemand dood of beseer nie. Hoe goed is die vlieënier opgelei?

Annelize ·

Heng, ons sal met harde hoedens moet begin loop bo en behalwe ons maskers, want genade, ligte vliegtuie en helikopters val darem maar die afgelope ruk soos vliee uit die lug uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.