Noue ontkoming vir Kaapse grysbokkie

Dié Kaapse grysbok het 'n noue ontkoming gehad nadat 'n motor hom waarskynlik gestamp het (Foto: Stad Kaapstad)

Dié Kaapse grysbok het ‘n noue ontkoming gehad nadat ‘n motor hom waarskynlik gestamp het (Foto: Stad Kaapstad)

ʼn Kaapse grysbokkie sterk goed aan nadat ʼn motor hom in Table View in Kaapstad gestamp het. Hy is in ʼn natuurreservaat vrygelaat.

Die Stad Kaapstad het in ʼn verklaring gesê die beseerde bokkie is tydens Augustus deur die natuurlewe-eenheid van die Dierebeskermingseenheid van die Kaap van Goeie Hoop opgetel in ʼn woonbuurt in Table View. “ʼn Lid van die publiek het hom opgetel. Hy het swak en verward voorgekom en is by ʼn veearts in Table View afgelaai. Die DBV het die rammetjie hier opgelaai. Hy is vermoedelik deur ʼn motor gestamp.”

Die bokkie is deur die DBV gemonitor om te bepaal of hy neurologiese beserings opgedoen het, omdat hy verward voorgekom het toe hy opgetel is. “Hy het nie weggehardloop toe die verbyganger nader gekom het nie,” het Johan van der Merwe, burgemeesterskomiteelid vir energie, omgewingsake en ruimtelike beplanning, gesê. “Dit was kommerwekkend, aangesien hierdie diere gewoonlik dadelik vlug wanneer ʼn mens naderkom.”

Dié Kaapse grysbok het 'n noue ontkoming gehad nadat 'n motor hom waarskynlik gestamp het (Foto: Stad Kaapstad)

Dié Kaapse grysbok het ‘n noue ontkoming gehad nadat ‘n motor hom waarskynlik gestamp het (Foto: Stad Kaapstad)

Die grysbokkie het ná twee weke ten volle herstel en is in die Rietvlei-deel van die stad se Table Bay-natuurreservaat vrygelaat.

Volgens Van der Merwe is ʼn rooikat en ʼn Kaapse grysbok verlede jaar op die pad tussen Bloubergstrand en Melkbosstrand, naby die Blaauwberg-natuurreservaat, dood. Ander diere wat ook al gevrek het sluit skilpaaie, Kaapse kobras, molslange, klein muskeljaatkatte en krimpvarkies in.

Twee otters het in Junie vanjaar in Marinerylaan in Milnerton op dieselfde aand gevrek.

“Ons kan motoriste nie genoeg versoek om stadiger te ry en versigtig te wees wanneer hulle naby natuurreservate ry nie. Wanneer jy stadiger ry, verseker jy jou eie veiligheid, die veiligheid van ander motoriste, en die beskerming van ons wild, soos die Kaapse grysbok en rooikat wat oor ons paaie wandel. Talle diere is nagdiere, so dit maak dit vir motoriste moeilik om hulle te sien wanneer hulle onverwags die pad oorsteek op soek na kos. In meeste gevalle is diere huiwerig om ʼn pad oor te steek, omdat dit ʼn vreemde omgewing is, en dan doen hulle dit gewoonlik skielik en onverwags. Motoriste word versoek om verantwoordelikheid te aanvaar vir die beskerming van ons diere en omgewing deur stadiger te ry en die spoedbeperkings te gehoorsaam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adeline ·

Wonderlike werk wat die DBV doen! Fantastiese nuus, die bokkies is so pragtig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.