Novella-familie: ‘Dit was ʼn ongelooflike tragedie’

Howdy Kabrins en sy vrou, Linda Kabrins. Foto: Catherine Rice/ANA

WAARSKUWING: Die besonderhede in dié berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die veroordeel moordenaar Diego Dougherty Novella se broer en suster het Maandag gesê dat Novella nie die “duiwel” of die “ miljardêr-casanova” is soos die media hom uitbeeld nie.

Novella se broer, Lucas, het vanaf Guatemala Stad met African News Agency (ANA) gepraat en beklemtoon wat sy tweelingsuster, Lucila, verlede week ter versagting getuig het. “Die persoon wat dit aan Gabriela gedoen het, was nie die Diego wat ons ons hele lewe lank geken het nie,” het Lucas gesê.

Novella is skuldig bevind aan die moord op Alban op 29 Julie 2015. Alban was ʼn Amerikaanse bemarkingsbeampte met wie Novella in ʼn romantiese verhouding was.

Alban is gewurg en aangerand in die hotelkamer in Kampsbaai waar die paartjie vakansie gehou het.

Novella het tydens die verhoor onskuldig gepleit en beweer hy was van demone besete en in ʼn abnormale geestestoestand omdat hy voor die aanval sekere middels geneem het. Hy het ook in die hof beweer sy vriendin het in ʼn demoon verander en hom die oggend van die moord begin aanval.

Doris Weitz en haar man, Alexander Williams. Foto: Catherine Rice/ANA

Regter Vincent Saldanha het egter sy weergawe verwerp en hom bo alle redelike twyfel skuldig bevind. Hy het gelas dat Novella wél in staat was om te onderskei tussen reg en verkeerd. “Myns insiens het hy presies geweet wat hy doen tydens [die aanval] en dit is ʼn duidelike aanduiding aan sy kant van die bedoeling om die oorledene te vermoor,” het Saldanha gesê.

Ao. Stephen Fourie, wat Novella op die dag van sy inhegtenisneming ondervra het, het tydens die verhoor aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê hy het in sy 30 jaar dienstydperk nog nooit só ʼn toneel soos dié in kamer 14 by die Kampsbaai-hotel gesien nie.

“Dit is nie die norm om ʼn liggaam só aan te tref nie.”

Alban se gesig is met aartappelskyfies en menslike ontlasting bedek en ʼn krultang is tussen haar bene gevind. ʼn Nota is op haar liggaam aangetref met die woord “cerote” op geskribbel, ʼn Spaanse woord wat “stuk gemors” beteken.

Novella het aangevoer sy denke is “gekaap” en hy het gedink hy stoei met ʼn demoon. Saldanha het ook dié weergawe verwerp.

Die paartjie was in Suid-Afrika om behandeling te kry vir Alban se siekte, Lyme se siekte, wat veroorsaak word deur ʼn bakterie wat deur ʼn bosluisbyt aan mense oorgedra word.

Susan, Novella se suster, het aan ANA gesê Novella het geglo die behandeling wat Alban gebruik het, was sleg vir haar en dat hy alternatiewe behandeling in Suid-Afrika wou gaan soek.

Susan het gesê die twee het ʼn toksiese verhouding gehad, maar het benadruk dat Novella nie ʼn gewelddadige man was nie. Lucas het bygevoeg: “Diego was nie homself nie, hy was die oulikste broer wat so baie omgegee het. Hy was ʼn dierbare man. Hy het probleme gehad, maar hy was nooit, ooit gewelddadig nie. Wat gelei het tot die voorval, sal net Diego en Gabriela weet.”

Alban en Novella het vir ʼn rukkie terwyl sy studeer het uitgegaan, maar het weer by mekaar uitgekom ná haar egskeiding van haar pediater-man. Novella het via sosiale media weer met haar kontak gemaak.

Diego Novella by sy gesin. Foto: Verskaf aan ANA.

Novella se gesin het sy kinderlewe as gelukkig en stabiel beskryf. Susan het ontken dat die familie ʼn sement-monopolie in Guatemala besit en het die mediaberigte dat Diego ʼn “miljardêr-casanova” was verwerp.

“Die media het genoem dat ons ʼn Sentrale Amerikaanse sement-monopolie besit. Dit is nie die geval nie, ons is nie die eienaars nie. Ons het belange in ʼn paar lande, hoofsaaklik Guatemala. Sy deel van die rykdom is totaal uit verband geruk. Ons is deel van ʼn groot groep aandeelhouers; dit is ʼn groot familie.”

Volgens haar het Novella, wat nog nooit formeel gewerk het nie, geld by hulle ma geërf.

Die tatoeëermerk van die nommer 13 op sy nek wat ook negatiewe reaksie uitgelok het omdat dit glo ʼn kenteken is van die berugte, gewelddadige MS-13- Mara Salvatrucha-bende, is ook volgens haar nie verteenwoordigend van dié bende nie.

“Dit het ʼn baie meer nederige en eenvoudige betekenis. Dit beteken die 13de apostel, en dit was Jesus. Hy het dit gekry toe hy 36 was.”

Sy glo dat hy voor die moord ʼn “Molotov-mengeldrankie” ingeneem het. “Dit is ʼn tragedie van verlies. Dit was aaklig vir ons. Al die leuens in die media; ons familie is in die openbaar geminag. Ons veiligheid is bedreig, beide my kinders is by die skool geboelie en hulle het niks verkeerd gedoen nie. Ons kan met Gaby se familie se pyn identifiseer, ons het ook gely. Wat my kinders moes deurmaak, is aaklig. Dit is ʼn verskriklike tragedie vir almal wat daarby betrokke is.”

Diego Novella met sy regsverteenwoordiger, William Booth. Foto: Tracey Adams/ANA

Doris Weitz, Alban se ma, het verlede week ter verswaring van vonnis getuig en het aan die hof gesê haar kind se moordenaar het haar “ʼn lewenslange vonnis sonder parool” opgelê.

ʼn Emosionele Weitz het aan die hof gesê as sy haar oë toemaak, dan speel die “fliek van wat hy aan haar dogter gedoen het” voor haar af.

Volgens haar ly sy aan posttraumatiese stres-sindroom, neem sy antidepressante en huil sy haarself elke aand aan die slaap. “Die moord was so boos, ek kon haar nie vashou of vertroos terwyl sy gely het en gesterf het nie. Sy is vermink. Ek kan sommige van die goed wat hy aan haar gedoen het, nie eens sê nie. Ek kon haar nie groet nie.”

Weitz en haar man, Alexander Williams, Alban se stiefpa, het al byna R500 000 spandeer en 11 keer vanuit die VSA na Kaapstad gekom om die verhoor by die woon.

Alban se pa, Howdy Kabrins, en stiefma, Linda, het maande aaneen in Kaapstad gebly sodat hulle ook die hofverrigtinge kon bywoon.

Kabrins sal na verwagting volgende week ter strafverswaring getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

So sorry ·

I am so sorry for this parents who had to go through this. To his family, sorry, but you still support him, maybe that is his problem, whatever he do, he got your support. Hopefully he will stay behind bars for ever, only to keep other woman and people safe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.