NRO maak kapsie teen Esidimeni-verslag

Levy Mosenogi, die hoofdirekteur van beplanning by die Gautengse departement van gesondheid. Foto: ANA

Ethel Ncube, eienares van die nieregeringsorganisasie Precious Angels, het Dinsdag Malegapuru Makgoba, ombudsman vir gesondheid, se verdoemende verslag oor die onbevoegdheid van haar perseel veroordeel en gesê sy sal bewyse verskaf om die teendeel te bewys.

Ncube is gepols tydens die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor wat deur adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gelei word.

Precious Angels het geriewe in Atteridgeville en Danville in Pretoria gehad. Daar is 58 psigiatriese pasiënte oorgeplaas na Precious Angels van wie 23 oorlede is.

Adv. Adila Hassim, vir die regsentrum Section27, het Makgoba se verslag voorgelees en Ncube gevra of sy saamstem met die bevindings.

“Dit staan hier dat daar soms nie genoeg ruimte by die perseel was nie, die beddens te naby aan mekaar was, die deur nie kon toe nie en die dak gelek het,” het Hassim gesê.

Ncube het kapsie gemaak en gesê die bewyse wat sy sal voorhou, sal ʼn ander prentjie skep.

“Dis nie waar nie, die enigste kwessie was die dak – maar dit het nie gelek nie, dit moes net herstel word. Bewyse wat ek sal voorhou, sal die teendeel bewys. Ons het ʼn sjef, ʼn skoonmaker en ʼn veiligheidswag,” het Ncube gesê.

Sy het bygevoeg dis onwaar dat die perseel nie lopende warm water gehad het nie. Toe Moseneke haar vra of sy ontken dat pasiënte dood is weens ondervoeding en uiterste koue weer het sy dit ten sterkste ontken.

“Ek is nie ʼn mediese kenner nie, dis hoekom ons ingestem het om die nadoodse ondersoeke te laat doen om die oorsaak van dood vas te stel,” het Ncube gesê.

Makgoba se verslag het bevind dat Precious Angels handel gedryf het onder ʼn onwettige lisensie wat deur Levy Mosenogi, die hoofdirekteur van beplanning by die Gautengse departement van gesondheid, uitgereik is.

Moseneke het haar gevra wat sý dink tot die dood van 23 pasiënte gelei het.

“Ek sou nie weet nie, ek sou afsluiting wou kry. Ek dink wat hulle doodgemaak het, was hul vorige mediese geskiedenis. Ek wil steeds kapsie maak teen wat die ombudsman gesê het; ek dink hul dood het plaasgevind weens al die frustrasie om van bakboord na stuurboord gestuur te word. Dit het te veel geword,” het Ncube gesê.

Die gesondheidsombudsman het vroeër vanjaar in ʼn verdoemende verslag bevind die 118 psigiatriese pasiënte is dood nadat hulle vanaf Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is. Die pasiënte is onder meer dood aan verwaarlosing en ondervoeding. Die dodetal is intussen aangepas na 141.

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het bedank kort voordat die verslag bekendgestel is. Sy het vroeër gesê ʼn tekort aan geld het die oorplasing van die pasiënte genoodsaak. Die hoof van die departement, Barney Selebano, is geskors.

Maroela Media het vroeër berig Mosenogi het gesê: “Dit was moeilik vir my. Ek wil jammer sê aan almal wat geraak is. Ek aanvaar ek het mense seergemaak. Ek het met die families gepraat, maar hulle het op my geskree en ons kon mekaar nie vind nie. Ek vra om verskoning namens myself, my kollegas en die departement van gesondheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

moordenaars ·

Daardie lot is almal moordenaars, hulle is so sleg dat hulle nie eers basiese water en kos vir die mense gegee het nie. Hulle moet soos moordenaars opgesluit word vir die res van hulle lewens!

Alida ·

Nou wil sy die teendeel bewys!!!! Seker nou nadat sy die plek “opgeknap” het. Moord en nogmaals moord. Verskonings gaan nie die mense terugbring nie.

Johann ·

Askuus? Jys verandwoordelik vir die dood van 23…23….23…23 van die mees weerlose mense en jou arrogantheid getrou aan jou kultuur van NOOIT JY nie…altyd iemand anders slaan soos n bose sweer deur! GEWETENLOSE BARBAAR! Vorige mediese geskiedenis? Nie JOU onbekwaamheid nie? Nie JOU onwettige misdryf van n plek wat TOTAAL ongeskik is vir menslike versorging? Siek siek siek

zoom zoom ·

Hietdie is net ‘n ander vorm van wat gebeur het in Marikana in NW. Niemand is skuldig gevind nie en hier gaan presies dieselfde gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.