NSFAS-beurse heringestel ná skikkingsooreenkoms

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Nasionale Skema vir Finansiële bystand vir Studente (NSFAS) het Donderdag onderneem om die opgeskorte beurse van diegene namens wie Solidariteit opgetree het, dadelik weer in te stel.

NSFAS het in ’n skikkingsooreenkoms met Solidariteit onderneem om voortaan al sy finansiële en kontraktuele verpligtinge teenoor Solidariteit se lede na te kom.

Die ooreenkoms volg nadat Solidariteit hom tot die hof gewend het oor wat hy as die onregmatige afskaffing van studente se studiebeurse bestempel. Die vakbond het deurgaans aangevoer dat die kontrak tussen NSFAS en sy beurshouers bindend is en nie sonder behoorlike regverdiging deur NSFAS gewysig kan word nie. Die saak sou Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word voordat die skema hom tot die skikking verbind het.

Paul Maritz, Solidariteit-bestuurder van jeug en loopbaanontwikkeling, sê Solidariteit verwelkom NSFAS se skielike bereidwilligheid om die beurse te hervat.

“NSFAS se onreëlmatighede is onmiddellik deur Solidariteit onder die loep geneem en Solidariteit het daarop aangedring dat NSFAS sy verpligtinge moet nakom. Ons was slaggereed om môre die stryd in die hof te voer. Ons is saam met ons lede verheug daaroor dat NSFAS ná volgehoue druk uiteindelik gedwing is om in te sien dat sy optrede nie geregverdig was nie,” het Maritz gesê.

“Hierdie ooreenkoms tussen Solidariteit se lede en NSFAS verseker nou dat die studente gerus kan wees dat hul studiegeld betaal sal word. Hulle kan dus nou op hul studie en loopbaan fokus. Reg en geregtigheid het geseëvier. Ons sal die situasie egter steeds dophou en nie skroom om ons regsoptrede teen NSFAS te hervat nie, sou daar verdere probleme met beurse opduik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Die Wolf ·

Hoekom eers na die hof moet wend om aksie te kry? Het vinnig van deuntjie verander want weer slegte publikasie vir regering. Laat my wonder in wie se sak sou dit geggaan het?

Sarel ·

Boodskap aan ander Studente…..julle getoi toi bting julke nerens nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.