NSFAS-dief mag appelleer teen vonnis

Sibongile Mani in die hof. (Foto: Skermskoot/eNCA)

Die streekhof in Oos-Londen het Vrydag Sibongile Mani, wat vyf jaar tronkstraf opgelê is nadat sy meer as R800 000 van die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS) op allerlei luukshede uitgegee het, se verlof tot appèl teen haar vonnis toegestaan.

Regter Twanet Olivier het egter haar verlof tot appèl teen haar skuldigbevindings van die hand gewys.

Mani, ʼn oudstudent aan die Walter Sisulu Universiteit (WSU), is einde Maart gevonnis nadat sy vroeër aan diefstal skuldig bevind is.

Maroela Media het vroeër berig Mani het gedurende 2017 derduisende rande verduister nadat R14 miljoen verkeerdelik in haar rekening inbetaal is. Die geld is verkeerdelik deur Intellimali, ʼn kontrakteur wat NSFAS se betalings behartig, oorbetaal.

Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Mani het ná haar vonnisoplegging haar appèlaansoek daarteen ingedien, behoudens die bepalings van artikel 276 (1) van die Strafproseswet.

“Dit beteken effektief dat Mani een sesde van die vonnis in aanhouding sal uitdien, waarna sy, onderhewig aan die diskresie van die kommissaris van korrektiewe dienste, vrygelaat kan word om die res van die vonnis buite uit te dien, op voorwaardes wat die kommissaris goeddink,” sê Tyali.

Volgens Tyali het die hof bevind die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys en geen ander hof kon ʼn ander uitspraak gee nie. Mani het geweet haar optrede was onwettig en het dus die opset gehad om diefstal te pleeg, het regter Olivier beklemtoon.

Voor die R14 miljoen, wat verkeerdelik in Mani se rekening inbetaal is, het sy nooit haar maandelikse toelae van R1 400 bestee aan verbode items ingevolge die NSFAS-finansieringsreëls nie. Sy het egter ʼn 76-dae-bestedingstog onderneem en meer as R800 000 aan verskeie verbode items bestee, wat 11 komberse, nege badlakens, verskeie kortbroeke vir mans, ʼn verskeidenheid alkoholiese drankies, sigarette, 24 baadjies en handsakke insluit.

Sy het die geld ook in verskillende dorpe bestee, wat volgens die hof ʼn bewys was dat sy die diefstal beplan het.

“Die hof het bevind dat bogenoemde kwessies en die feit dat sy ʼn studente-aktivis was, wat die prosesse van studentefinansies geken en verstaan het, getoon het dat sy die diefstal doelbewus gepleeg en geweet het haar dade was onwettig.”

Mani het geweier om tydens die verhoor te getuig en gekies om haar swygreg uit te oefen. Gevolglik het die hof hoofsaaklik op die getuienis van die staat staatgemaak om ʼn uitspraak te lewer. Die hof het bevind dat die staat se getuienis en weergawe van gebeure waar en betroubaar is.

Die staat het die vonnis as gepas aanvaar en sal só argumenteer wanneer die appèl aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Laat sy sit, vir lank. As ‘n student in die finansiële sektor, hoop ek sy kry nie werk in die sektor nie. Laat sy maar leer wat etiek beteken op die harde manier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.